Die beste hulp om van die toekoms te leer
Deur iemand wat die weg na die lewe gevind het
GODSDIENS het ’n belangrike rol in die lewe van my gesin gespeel. My pa was ’n Jood, en al het hy ’n lid van die Katolieke Kerk geword sodat hy met my ma kon trou, het hy nog baie respek vir die Bybel gehad. Moeder het uit ’n familie met diepgewortelde Katolieke tradisies gekom—twee van haar susters was nonne, ’n neef was ’n monseigneur en twee neefs was monnike.
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die angs, die bekommernisse en die alomteenwoordige bedreiging om na ’n konsentrasiekamp gedeporteer te word omdat hy ’n Jood is my pa vroeg laat sterf. Omdat my ma vas geglo het in die onsterflikheid van die siel het sy aan spiritistiese séances deelgeneem en met my pa in verbinding probeer tree.
As volwassene was tradisionele godsdiens steeds ’n deel van my lewe. Ek was steeds ’n “goeie Katoliek”. Katolisisme kon nietemin nie verduidelik wat die toekoms vir my inhou nie. Wie sou my help om dit te wete te kom?
Ek het spiritistiese mediums geraadpleeg, net soos my ma destyds gedoen het. Aangesien hulle elke vergadering met die kruisteken en gebed geopen het, was ek oortuig dat die vreemde dinge wat ek gesien het van God afkomstig was. Omdat ek iets wou doen om die lyding van ander te verlig het ek op hierdie tydstip by ’n Katolieke vereniging aangesluit wat reise gereël het na die Maria-heiligdom by Lourdes, waarheen siekes gegaan het met die hoop om wonderdadig genees te word.
Die eerste keer toe ek van Jehovah se Getuies gehoor het, was die dag toe my man twee tydskrifte aanvaar het wat vir my baie interessant was. Wat my die meeste beïndruk het, was dat die Bybel aangehaal is ter stawing van kommentare in die tydskrifte. Ek het dadelik besef dat hierdie publikasies baie nuttig kon wees om van God se Woord te leer. Ek het op albei tydskrifte ingeteken. Jehovah se Getuies het my besoek, en ek het begin om die Bybel te bestudeer.
Ek was baie entoesiasties oor die Bybelwaarhede wat ek geleer het en het met kennisse daaroor begin praat. Ek is geskok deur die reaksie van ’n vriendin, die een wat die pelgrimstogte georganiseer het, toe ek haar vertel dat ek die Bybel saam met die Getuies bestudeer. Sy het baie kwaad geword en sulke slegte dinge van hulle gesê dat ek geloop het. Toe moes ek teenstand van my man verduur (Mattheüs 10:36). Aan die begin was dit moeilik, maar hoe meer ek die dinge wat ek geleer het, toegepas het, des te meer het my gesinslewe verbeter. Ek is in 1977 gedoop.
Ek het besef dat ek nooit die weg na die lewe sou gevind het as Jehovah se Getuies nie belangstelling in my getoon het deur my te probeer help om die Bybel se wonderlike waarhede te leer nie. Ek het geweet dat ek ook verplig was om soveel moontlik te doen om ander te help om van Jehovah en sy wonderlike voorneme vir die toekoms te leer. Hoe sou ek dit doen? Die beste manier was om die voltydse bediening te betree. Aangesien ek in ’n godsdienstig verdeelde huis gewoon het, was dit nie vir my maklik nie. Maar ek het op Jehovah se steun en leiding vertrou en het hom my toevlug gemaak. As gewone pionier geniet ek nou die gelukkigste jare van my lewe. Ek is meer oortuig as ooit tevore dat Jehovah “goed is” en dat enigiemand “wat by Hom skuil” gelukkig is.—Psalm 34:9.