Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 7/15 bl. 8-9
  • Lesse oor egskeiding en liefde vir kinders

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Lesse oor egskeiding en liefde vir kinders
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Soortgelyke materiaal
  • Lesse oor egskeiding en liefde vir kinders
    Die grootste mens wat nog geleef het
  • Jesus leer mense oor egskeiding en liefde vir kinders
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
  • Egskeiding—Wat sê die Bybel werklik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Respekteer “wat God . . . onder een juk saamgevoeg het”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 7/15 bl. 8-9

Jesus se lewe en bediening

Lesse oor egskeiding en liefde vir kinders

JESUS en sy dissipels is op pad na Jerusalem om die Pasga van 33 G.J. by te woon. Hulle steek die Jordaanrivier oor en neem die roete deur die gebied Perea. Jesus was ’n paar weke vroeër in Perea, maar toe is hy na Judea geroep omdat sy vriend Lasarus siek was. Terwyl hy in Perea was, het Jesus met die Fariseërs oor egskeiding gepraat, en nou roer hulle die onderwerp weer aan.

Onder die Fariseërs is daar verskillende denkrigtings oor egskeiding. Moses het gesê dat iemand sy vrou kan skei weens “iets skandeliks aan haar”. Sommige dink dat dit net betrekking het op onkuisheid. Maar ander dink dat “iets skandeliks” baie geringe oortredings insluit. Vasbeslote om Jesus te versoek, vra die Fariseërs dus: “Is dit ’n man geoorloof om oor allerhande redes van sy vrou te skei?” Hulle is vol vertroue dat wat Jesus ook al sê hom in ’n stryd sal wikkel met Fariseërs wat ’n ander beskouing huldig.

Jesus beantwoord die vraag meesterlik deur hom nie op enige menslike opinie te beroep nie, maar deur terug te verwys na die oorspronklike doel van die huwelik. Hy vra: “Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie, en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees; sodat hulle nie meer twee is nie maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.”

Jesus toon dat God se oorspronklike voorneme was dat huweliksmaats bymekaarbly, dat hulle nie skei nie. As dit die geval is, vra die Fariseërs, “waarom het Moses dan beveel om ’n skeibrief te gee en van haar te skei?”

“Moses [het] weens die hardheid van jul harte julle toegelaat . . . om van julle vroue te skei”, antwoord Jesus, “maar van die begin af was dit nie so nie.” Ja, toe God die oorspronklike standaard vir die huwelik in die tuin van Eden neergelê het, het hy geen voorsiening vir egskeiding gemaak nie.

Jesus sê voorts vir die Fariseërs: “Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery [Grieks, por·neiʹa], en ’n ander een trou, pleeg egbreuk.” Hy toon daardeur dat por·neiʹa, wat growwe geslagsonsedelikheid is, in God se oë die enigste geldige rede vir ’n egskeiding is.

Die dissipels, wat besef dat die huwelik ’n blywende band moet wees met net hierdie grond vir egskeiding, sê onwillekeurig: “As die saak van ’n man met ’n vrou so is, dan is dit nie wenslik om te trou nie.” Iemand wat aan trou dink, moet ongetwyfeld ernstig nadink oor die permanensie van die huweliksband!

Jesus praat voorts oor die ongehude staat. Hy verduidelik dat sommige seuns as eunugs gebore word. Hulle is nie in staat om te trou nie, omdat hulle nie seksueel ontwikkel nie. Ander word deur mense eunugs gemaak, omdat hulle geslagtelik wreed vermink word. Laastelik onderdruk sommige die begeerte om te trou en om geslagsgemeenskap te hê sodat hulle hul in groter mate kan wy aan sake wat verband hou met die Koninkryk van die hemele. “Laat hom wat [vir die ongehude staat] plek kan maak, daarvoor plek maak”, sluit Jesus af.

Mense begin nou hulle jong kindertjies na Jesus toe bring. Die dissipels raas egter met die kinders en probeer hulle wegstuur, ongetwyfeld omdat hulle Jesus teen onnodige spanning wil beskerm. Maar Jesus sê: “Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God. Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.”

Watter puik lesse gee Jesus hier! As ons God se Koninkryk wil ontvang, moet ons die nederigheid en ontvanklikheid van jong kinders navolg. Maar Jesus se voorbeeld lig ook toe hoe belangrik dit is dat veral ouers tyd saam met hulle kinders deurbring. Jesus toon nou sy liefde vir kindertjies deur hulle in sy arms te neem en te seën. Mattheüs 19:1-15; Deuteronomium 24:1; Lukas 16:18; Markus 10:1-16; Lukas 18:15-17.

◆ Watter verskillende beskouings het die Fariseërs oor egskeiding, en hoe probeer hulle Jesus dus versoek?

◆ Hoe reageer Jesus op die Fariseërs se poging om hom te versoek, en wat gee hy aan as die enigste rede vir egskeiding?

◆ Waarom sê Jesus se dissipels dat dit nie wenslik is om te trou nie, en wat beveel Jesus aan?

◆ Wat leer Jesus ons deur sy handelinge met jong kindertjies?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel