’n Resolusie
Die bywoningsyfer vir die “Goddelike Geregtigheid”-Streekbyeenkomste was ongetwyfeld groter as dié van die vorige jaar, toe 6 443 597 in 1 098 plekke dwarsdeur die wêreld byeengekom het en 93 822 gedoop is. Na die toespraak “Die berugte ‘hoer’” wat by al die “Goddelike Geregtigheid”-Streekbyeenkomste gehou is, is die pragtig geïllustreerde boek Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!, wat 320 bladsye het en in meer as 20 tale verskyn, vrygestel. Die spreker het vir die gehoor gesê: “Maak deeglik gebruik van hierdie nuwe boek in julle persoonlike en gemeentelike studies. Gebruik dit ook om vir die wêreld aan te kondig dat Babilon die Grote gedoem is, dat die nasies nou voor Armageddon staan en dat die groot klimaks bereik sal word in Jehovah se luisterryke Koninkryksheerskappy onder Christus en sy bruid. Julle sal gelukkig wees om hierdie dinge te hoor en te bewaar, ‘want die [bestemde] tyd is naby’!”—Openbaring 1:3.
Ons, wat sedert 1914 in “die dag van die Here” en gedurende hierdie tyd van goddelike oordeel lewe, verheug ons oor die allergrootste voorreg, naamlik om die Soewereine Heer Jehovah onder sy Koning van die konings, Jesus Christus, te dien (Openbaring 1:10). As JEHOVAH SE GETUIES getuig ons soos volg:
(1) ONS VERAFSKU die smaad wat Babilon die Grote, en die Christendom in die besonder, op die naam van die enigste ware en lewende God, Jehovah, gewerp het. Wat ons betref, ONS IS DIT VOLKOME EENS met die woorde van Openbaring 4:11: “U is waardig, o [Jehovah], om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag.”
(2) ONS VERAFSKU die Christendom se verkleefdheid aan Babiloniese leringe, veral dié oor ’n drie-enige god, die onsterflikheid van die mensesiel, ewige pyniging in die hel, ’n vurige vaevuur en die aanbidding van beelde—soos die Madonna en die kruis. Ooreenkomstig Openbaring 22:18, 19 BLY ONS STRENG by God se geskrewe Woord en alles wat dit bevat.
(3) ONS VERAFSKU godonterende filosofieë en gebruike, soos evolusie, bloedoortappings, aborsies, leuens, hebsug en oneerlikheid, dinge wat so algemeen is in die Christendom. Ons sal in ons aanbidding en lewenswyse EER BETOON aan ons Skepper, Jehovah God, die Almagtige, wie se wee in Openbaring 15:3 “regverdig en waaragtig” genoem word.
(4) ONS VERAFSKU die Christendom se versuim om gehoor te gee aan Jesus se boodskappe aan die sewe gemeentes in Openbaring hoofstukke 2 en 3 ten opsigte van sake soos die sektegees, afgodediens, hoerery, die Isebel-invloed, louheid en die gebrek aan waaksaamheid. Wat ons betref, ONS SAL HOOR EN GEHOORSAAM WEES AAN wat “die Gees aan die gemeentes sê”.
(5) ONS VERAFSKU die onsedelikheid en permissiwiteit in die Christendom en onder haar geestelikes, en ons verwelkom Jehovah se duidelike oordeel soos uitgespreek in Openbaring 21:8, naamlik dat almal wat voortgaan in hulle vuilheid—hoereerders, leuenaars en dies meer—totaal vernietig sal word. ONS GEE ONS HEELHARTIGE STEUN aan Bybelstandaarde in verband met seks, die huwelik en die gesinslewe.
(6) ONS VERAFSKU die eeue-oue geestelike prostitusie van die geestelikes van Babilon die Grote deur hulle geheul met wêreldheersers om mag, rykdom en verdrukkende oorheersing oor die gewone mense te verkry. ONS NEEM ONS VOOR om regskapenes te help om gehoor te gee aan die oproep van die engel in Openbaring 18:4: “Gaan uit haar uit, my volk.”
(7) ONS VERAFSKU die geweldige bloedskuld wat spruit uit die meer as 100 miljoen lewens wat in hierdie eeu alleen in oorloë opgeoffer is, hoofsaaklik vanwee die groot hoer se hoerery met die politieke magte. ONS VERHEUG ONS dat die bestemde tyd naby is wanneer God sy oordeel aan Babilon die Grote gaan voltrek, soos Openbaring 18:21-24 uitdruklik sê.
As Jehovah se Getuies AG ONS DIT ’N VREUGDE EN ’N VOORREG om vir die wêreld aan te kondig dat ‘die koninkryk van die wêreld in 1914 die eiendom van ons Here [Jehovah] en van sy Christus geword het’ (Openbaring 11:15). ONS NEEM ONS VOOR om onbevrees voort te gaan om Jehovah se verklaarde oordele teen Babilon die Grote bekend te maak en mense te waarsku teen God se vinnig naderende oorlog by Armageddon. ONS IS VASBESLOTE om met ’n harde stem en “aan alle nasies en stamme en tale en volke” die blye tyding te verkondig dat “’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde” ophande is tot seën van die gehoorsame mensdom (Openbaring 14:6; 21:1). ONS VERHEUG ONS dat ’n groot menigte van oor die driemiljoen mense uit alle nasies nou, as gevolg van hierdie verkondiging, wêreldwyd met ons verenig is. Saam met die engel wat in die middel van die lug vlieg, se ons almal: “Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.”—Openbaring 14:7.
Vrae vir die bestudering van “’n Resolusie”:
1. Waaroor verheug Jehovah se Getuies hulle nou?
2. Meld by elk van die Resolusie se sewe punte (a) wat Jehovah se Getuies verafsku en (b) wat die Getuies bevestig.
3. (a) Watter vreugde en voorreg het Jehovah se Getuies? (b) Wat is die Getuies se vaste voorneme? (c) Wat is ons ook vasbeslote om te doen? (d) Waaroor verheug Jehovah se Getuies hulle, en wat maak hulle bekend?