Vrae van lesers
▪ Waarom het Jesus belowe dat diegene wat in hom glo ‘nooit sal sterwe nie’ as al sy luisteraars in der waarheid wel gesterf het?—Johannes 11:25, 26.
Toe Jesus gesê het dat hulle nie sal sterf nie, of vir ewig sal lewe, het hy ongetwyfeld nie bedoel dat sy luisteraars destyds nooit menslike dood sou ervaar nie. Jesus wou basies die gedagte tuisbring dat geloof in hom tot ewige lewe kan lei.
Jesus het homself eenkeer “die brood van die lewe” genoem. Hy het toe bygevoeg: “Dít is die brood wat uit die hemel neerdaal, sodat iemand daarvan kan eet en nie sterwe nie. Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid.”—Johannes 6:48-51.
As ’n mens net daardie woorde in aanmerking neem, kan hy dalk tot die slotsom kom dat Jesus vir sy gehoor gesê het dat hulle die dood kan vryspring. Die konteks staaf egter nie daardie gevolgtrekking nie. Jesus het pas tevore gesê: “Dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag. . . . Elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, [sal] die ewige lewe . . . hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag. . . . Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag” (Johannes 6:39-44). En later het hy gesê: “Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag” (Johannes 6:54). Ons kan tereg verstaan dat Jesus se belofte van ‘ewige lewe’ dus nie beteken dat sy luisteraars nooit sou sterf nie.
Dit geld ook vir Jesus se welbekende belofte aan Martha: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie” (Johannes 11:25, 26). Dit is duidelik dat Jesus nie bedoel het dat mense soos die getroue apostels nooit sou sterf soos ander mense nie. Hulle sou binne ’n jaar met heilige gees gesalf word en sou die hoop ontvang om as konings in die hemel te heers. Hulle sou as mense moes sterf om daardie beloning te ontvang (Romeine 8:14-23; 1 Korinthiërs 15:36-50). En let op dat Jesus gesê het: “Wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe.”
Jesus se belofte sal vervul word teenoor toegewyde knegte van God wat geleef en gesterf het voor die tyd wanneer ewige lewe toegestaan gaan word. Sulke getroue persone kom in aanmerking vir ’n toekomstige opstanding. As hulle na hulle opstanding getrou bly, sal hulle nooit “die tweede dood”, ewige dood, smaak nie.—Openbaring 20:15; 21:8; Johannes 8:51.
Maar Bybelprofesie toon dat ons vandag ’n spesiale geleentheid het. Omdat ons in die voleinding van die stelsel van dinge lewe, kan ons die komende “groot verdrukking” oorlewe en die nuwe wêreld ingaan. Sulke persone wat die hoop het om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe en wat aan God lojaal bly, hoef nooit dood te gaan nie. Wanneer hulle “die groot verdrukking” oorlewe, sal hulle “na lewende waterfonteine” gelei word.—Openbaring 7:9-17.
[Prent op bladsy 31]
Jesus se woorde aan treurende Martha gee ons hoop op ewige lewe