Koninkryksverkondigers berig
’n Man se volharding verenig ’n gesin
WAT sou jy doen as jy die waarheid aanvaar het en jou huweliksmaat jou dan bitterlik teëstaan en alles in haar vermoë doen om jou jou onkreukbaarheid te laat prysgee? Sou jy versterk word deur Paulus se woorde in 2 Timotheüs 3:12, waar hy sê: “Almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word”? Sou jy dit verduur of sou jy tou opgooi? ’n Christenman in Italië het voor so ’n uitdaging te staan gekom. Hy het nie tou opgegooi nie, en Jehovah het hom daarvoor geseën.
Die man onder bespreking was voorheen ’n ywerige kommunis, maar hy was ook ’n vurige Katoliek. Hy het geglo dat alle mense gelyk is en het gemeen dat albei bewegings hierdle ideaal verkondig. Een van sy werkmaats het met hom oor God se Koninkryk gepraat, en hy het onmiddellik besef dat dit die enigste manier is waarop gelykheid verkry kan word. Hy het die waarheid met dieselfde ywer aanvaar waarmee by kommunisme en Katolisisme aangehang het, en hy is in 1972 gedoop. Wat van sy vrou? Sy het hom bitterlik teëgestaan. Sy vertel:
“Dit was in 1970 dat my man by sy werk vir die eerste keer met Jehovah se Getuies kennis gemaak het. Ek het geleidelik, terwyl hy die Bybel bestudeer het, begin besef dat dit ’n nuwe godsdiens was en dat dit leerstellings gehad het waarmee ek nie saamstem nie. Ek en ander familielede het hom onmiddellik begin teëstaan.”
Sy gaan voort: “My man se ouers het hom getreiter en elke moontlike manier gebruik om hom sy studies te laat vaar. Namate my man se Bybelkennis toegeneem het, het hy besef dat dit nodig is om van afgode in ons huis ontslae te raak. Ek het vir hom gesê dat iets ernstigs sal gebeur as hy dit sou doen. Hy het ’n godsdiensprent vernietig, en ek het hom begin uitskel, hom te lyf gegaan en verskeie van sy tydskrifte opgeskeur. Toe ek op hom begin skreeu het, het my skoonouers ingestorm en hom ook te lyf gegaan, maar hy het nie terugbaklei nie.
“Die rusies het voortgeduur totdat ek hom verlaat het toe hy ons dogter verbied het om katkisasieklasse by ons kerk by te woon. My man het vir my gesê dat hy ’n formele klag van verlating gaan indien as ek nie terugkeer huis toe nie. Na ’n week het ek besluit om terug te gaan.
“In ’n verdere poging om hom te laat ophou, het ek na ’n geesmedium gegaan en gevra dat hy hom begoël. Die medium het vrae aan my begin stel, en ek het die situasie verduidelik. Toe hy hoor wat die toedrag van sake was, het hy vir my gesê dat geen soort begoëling enige uitwerking op Jehovah se Getuies het nie.
“Ons het gedink dat ons die plaaslike priester moet raadpleeg. Die priester het ons aangeraai om na ’n prokureur te gaan. Tot my verbasing het die prokureur my aangemoedig om die vergaderinge van Jehovah se Getuies saam met my man by te woon. My skoonpa, wat saam met my was, het hierteen beswaar gemaak en gesê dat sy familie San Rocco, ‘Die Beskermer’ van ons dorp, met groot toewyding dien. Maar die prokureur het verduidelik dat hierdie ‘heilige’, soos alle ander afgode, vals is. Hy het toe verduidelik dat hy die voorsitter van Katolieke Aksie is en vir ons gesê dat hy geensins aan die godsdiensfeeste deelneem nie, omdat hy, nadat by die Bybel gelees het, weet dat hulle almal vals is. Hy het ten slotte gesê: ‘Gaan saam met jou man, en lewe in vrede. Luister na hom, en begin ook om die Bybel te bestudeer.’
“Hierdie aanmoediging het my oor die gedrag, veranderinge en volharding van my man laat nadink, en ek het begin om vergaderinge van Jehovah se Getuies saam met hom by te woon. Die liefde wat daar betoon is, het my so beïndruk dat ek begin studeer het, by die Teokratiese Bedieningskool aangesluit en aan die velddiens begin deelneem het. Ek het uiteindelik in 1977 my toewyding gesimboliseer en is nou bly om in die waarheid te wees, danksy Jehovah wat my man gehelp het om te volhard en die hele gesin in Sy aanbidding te verenig.”