Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 8/15 bl. 24-26
  • Die raaisel van die poorte

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die raaisel van die poorte
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Soortgelyke materiaal
  • Megiddo—’n Ou slagveld met profetiese betekenis
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Nasies versamel by Megiddo
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 8/15 bl. 24-26

Die raaisel van die poorte

BAIE mense se nuuskierigheid word geprikkel deur ’n raaiselverhaal—’n verhaal met ’n knoop, met leidrade wat op verskeie maniere verklaar kan word en met ’n verrassende einde, waar ’n skat moontlik gevind word. As dit met jou die geval is, sal jy ‘Die raaisel van die poorte’ geniet.

Hierdie raaisel het sy verskyning by Megiddo gemaak, ’n strategiese stad wat handels- en militêre roetes in die eertydse Midde-Ooste oorheers het. Argeoloë het die ruïnes van ’n grootse verdedigingspoort opgegrawe en die bewyse het hulle daarvan oortuig dat dit uit koning Salomo se tyd kom. Hoe het dit gelyk? Die leidrade het begin.

Kyk na die model van eertydse Megiddo regs, en veral na die aangeduide poortgebied. ’n Eertydse reisiger of ’n aanvallende leër wat met die pad na die vestingstad opgeklim het, het eers by ’n buitenste poort gekom. Daarbinne was ’n plein of voorhof. Daarop sou enige aanvallers sigbaar wees wanneer hulle verder gegaan en links gedraai het om die hoofverdedigingspoort, wat die kern van ons raaisel is, te bereik.

Versterkte torings het die voorste gedeeltes van die poort uitgemaak. Die hele poortgebou is, nie met ruwe klip of met bakstene gebou nie, maar met vormklip (steenblokke wat versigtig reggekap is) wat kenmerkend van Salomo se tyd was. Maar daar was ’n besondere styl binne die poort. Aan weerskante van ’n lang voorportaal was enorme pilasters, of klipsteunpilare, wat ses kamers gevorm het waar wagte gestasioneer kon word. (Vergelyk Esegiël 40:6, 10, 20, 21, 28, 29.) In vredestye kon ’n strydwa of groep handelaars maklik daar verbygaan, maar dit sou ’n ander saak wees vir aanvallers wat daarin geslaag het om deur die swaar hoofdeure te breek. Die klipsteunpilare sou aanvallers in ’n nou gangetjie dwing waar hulle sou deurloop onder gewapende manne in die kamers aan die regter- en linkerkant, die room van Megiddo se leër.

Die raaisel verskuif nou noord van die See van Galilea na die tel, of ruïneheuwel, van eertydse Hasor, waar professor John Garstang in 1928 opgrawings gedoen het. Israeliese argeoloog Yigael Yadin het in 1955 na hierdie groot tel teruggekeer. Hy het ’n Bybelse verklaring in gedagte gehad, wat lui: “Dit was die saak van die dwangarbeiders wat koning Salomo laat opkom het om die huis van die HERE . . . en die muur van Jerusalem en Hasor en Megiddo en Geser te bou” (1 Konings 9:15). Dit het logies gelyk dat Salomo se ingenieurs ’n breë plan sou volg vir soortgelyke versterkings in ander stede wat hulle herbou het. Het sulke Salomoniese poorte in Hasor bestaan?

Namate Yadin se werkers met hulle opgrawings gevorder het, het hulle ’n skuilkeldermuur gevind, ’n dubbele muur met kamers tussenin. Toe het ’n groot gebou wat met die mure verbind was, begin verskyn. Yadin sê: “Ons het onmiddellik besef dat ons die poort ontdek het . . . Dit was boonop gou duidelik dat die poort se plan—wat uit ses kamers en twee torings bestaan het—asook sy afmetings, identies was met die van die poort wat [vele jare] gelede by Megiddo ontdek is . . . Die opgewondenheid het in ons kamp toegeneem . . . Ons het die plan van die Megiddo-poort op die grond geteken, penne ingesteek om hoeke en mure aan te dui en ons werkers toe aangesê om volgens die aanduidings te grawe, met die belofte: ‘hier sal julle ’n muur vind’, of ‘daar sal julle ’n kamer vind’. Toe ons ‘profesieë’ bewaarheid is, het ons aansien geweldig gestyg . . . Toe ons [vir hulle] die Bybelvers oor Salomo se aktiwiteite in Hasor, Megiddo en Geser lees, het ons aansien vinnig gedaal, maar het dié van die Bybel hemelhoog gestyg!”—Hazor: The Rediscovery of a Great Citadel of the Bible.

Dit het gelyk asof die raaisel van die poorte opgelos is presies soos verwag is volgens die leidrade in die Bybel. Maar wat van Geser in die suide? Yadin het geweet dat Ierse argeoloog R. A. S. Macalister, wat tussen 1902 en 1909 daar opgrawings gedoen het, niks gevind het wat aan Salomo toegeskryf kon word nie. Is belangrike leidrade dalk misgekyk in wat selfs Yadin “Die raaisel van Geser” genoem het?

Hy vertel: “As gevolg van die ontdekkings van Hasor en die bekende passasie in 1 Konings het ek Macalister se verslag weer ondersoek in die hoop dat ek ’n poort sou vind. Jy kan jou my verbasing en grenslose opgewondenheid voorstel toe . . . ek op ’n ontwerpplan . . . met die titel ‘Plan van die Makkabese kasteel van Geser’ afgekom het.” Macalister het die datum van daardie “kasteel” se ruïnes vasgestel op die rebellie van die Joodse Makkabeërs (2de eeu v.G.J.). Maar Yadin het gedink dat hy in hierdie ou tekening ‘’n skuilkeldermuur, ’n buitenste poorthuis, en selfs belangriker, iets wat soos die helfte van ’n stadspoort gelyk het, presies soos dié wat in Megiddo en Hasor gevind is’, kon sien. Yadin het ’n artikel oor hierdie leidrade gepubliseer. Later het dr. William G. Dever by Geser opgrawings gedoen. Die resultate? Dever het opgewonde geskryf: “Salomo het Geser inderdaad herbou!” Of soos Yadin dit stel: “Dever se span het jou waarlik nie net die ander helfte van die poort gevind nie, maar die stratigrafie en erdewerk was afdoende bewys dat die kompleks in Salomo se tyd gebou is.”

Sodoende is die raaisel opgelos. Yadin het in The Biblical Archaeologist (Deel XXXIII, 1970, 3) gesê: “Die Salomoniese vestings, waarvan die ontwerp in die drie stede identies is, is met behulp van die kort Bybelse passasie uit Konings ontdek en gedateer.” “Trouens, dit lyk asof daar geen voorbeeld in die geskiedenis van argeologie is waar ’n passasie soveel gehelp het om geboue in verskeie van die belangrikste telle te identifiseer en te dateer . . . soos 1 Konings 9:15 nie.”

[Prente op bladsy 25]

Argeoloë het met 1 Konings 9:15 as grondslag ’n poort by Hasor gevind van dieselfde grootte en vorm as dié in Megiddo

[Prente op bladsy 26]

Die poort by Geser vanuit die lug gesien. Die tekening toon wat eerste opgegrawe is (solied) en wat ongeveer 60 jaar later ontdek is (gestippeld)

[Erkenning]

Prenteargief (Nabye Oosterse geskiedenis)

[Foto-erkenning op bladsy 24]

Prenteargief (Nabye Oosterse geskiedenis)

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel