Jesus se lewe en bediening
’n Demonbesete seun word genees
TERWYL Jesus, Petrus, Jakobus en Johannes weg is, waarskynlik op die uitloper van die berg Hermon, ondervind die ander dissipels ’n probleem. Toe Jesus terugkeer, sien hy dadelik dat iets verkeerd is. Daar is ’n groot skare om sy dissipels, en die skrifgeleerdes redeneer met hulle. Die mense is baie verbaas toe hulle Jesus sien en hardloop nader om hom te groet. “Waaroor redeneer julle met my dissipels?” vra hy.
’n Man kom uit die skare na vore, kniel voor Jesus en verduidelik: “Meneer, ek het my seun na U toe gebring omdat hy van ’n gees besete is wat hom stom maak. En elke keer as die gees hom gryp, gooi hy hom op die grond neer. Dan kry hy skuim om die mond en hy kners op sy tande, en sy spiere trek saam. Ek het u dissipels gevra om die gees uit te drywe, en hulle kon nie.”
Die skrifgeleerdes buit blykbaar die dissipels se onvermoë om die seun gesond te maak uit en bespot moontlik hulle pogings. Jesus kom presies op hierdie kritieke tydstip daar aan. “Ongelowige geslag”, sê hy, “hoe lank moet Ek nog by julle wees? Hoe lank moet Ek julle nog verdra?”
Jesus rig sy woorde skynbaar tot die aanwesiges, maar seker in die besonder tot die skrifgeleerdes wat moeilikheid vir sy dissipels veroorsaak het. Vervolgens sê Jesus van die seun: “Bring hom hier na My toe.” Maar terwyl die seun na Jesus toe aankom, gooi die demon wat in hom ingevaar het hom op die grond neer en laat hom hewige stuiptrekkings kry. Die seun rol op die grond rond en daar is skuim om sy mond.
“Hoe lank is dit al dat dit hom oorkom?” vra Jesus.
“Van kleins af”, antwoord die vader. “Baiekeer het die gees hom al in vuur en in water gegooi om hom dood te maak.” Dan pleit die vader: “As U tog miskien iets daaraan kan doen, kry ons jammer en help ons.”
Die vader soek dalk al jare lank hulp. En nou is hy, weens die onvermoë van Jesus se dissipels, baie wanhopig. Jesus vestig die aandag op die man se desperate versoek en sê bemoedigend: “‘As U iets kan doen,’ sê jy. Vir die een wat glo, kan alles.”
“Ek glo!” roep die vader dadelik uit, maar hy smeek: “Help my waar ek nog ongelowig is.”
Jesus sien dat ’n menigte mense aangestroom kom en bestraf die demon: “Jou stom en dowe gees, Ek gebied jou: Gaan uit hom uit en moet nooit weer in hom invaar nie!” Toe die demon uit die seun uitgaan, laat hy hom weer skreeu en hewige stuiptrekkings kry. Daarna lê die seun bewegingloos op die grond, sodat die meeste van die mense begin sê: “Hy is dood.” Maar Jesus vat die seun by die hand, en hy staan op.
Toe die dissipels vroeër uitgestuur is om te preek, het hulle demone uitgedrywe. Daarom vra hulle nou vir Jesus eenkant toe hulle by ’n huis ingaan: “Waarom kon ons die gees nie uitdrywe nie?”
Jesus dui aan dat dit weens hulle gebrek aan geloof was deur te sê: “Hierdie soort goed kan met niks anders as met gebed uitgedrywe word nie.” Voorbereiding was klaarblyklik nodig om hierdie besonder kragtige demon uit te drywe. Sterk geloof tesame met gebed tot God om sy magtige hulp was nodig.
Dan voeg Jesus by: “Dit verseker Ek julle: As julle maar geloof het so groot soos ’n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê: ‘Gaan staan daar anderkant!’ en hy sal gaan. Niks sal vir julle onmoontlik wees nie.”
Hoe kragtig kan geloof tog wees! Hindernisse en moeilikhede wat vooruitgang in Jehovah se diens verhinder, kan skynbaar net so onoorkoomlik en onverwyderbaar soos ’n groot, letterlike berg wees. Maar Jesus toon dat as ons geloof in ons harte kweek, dit benat en help om te groei, dit tot rypheid sal ontwikkel en ons in staat sal stel om sulke hindernisse en moeilikhede wat so groot soos ’n berg lyk, te bowe te kom. Markus 9:14-29, NAV; Mattheüs 17:19, 20, NAV; Lukas 9:37-43, NAV.
◆ Watter situasie vind Jesus toe hy van die berg Hermon terugkeer?
◆ Watter bemoediging het Jesus die vader van die demonbesete seun gegee?
◆ Waarom kon die dissipels nie die demon uitdrywe nie?
◆ Hoe kragtig kan geloof volgens Jesus word?