Jesus se lewe en bediening
Jesus—“Die ware brood uit die hemel”
DIE dag was voorwaar gebeurtenisvol. Jesus het duisende wonderdadig gevoed en toe die mense se poging om hom koning te maak, ontwyk. Daardie nag het hy oor die onstuimige see van Galilea geloop; Petrus gered toe hy begin sink het terwyl hy oor die stormagtige water geloop het en die golwe stilgemaak om te voorkom dat sy dissipels skipbreuk ly.
Mense wat noordoos van die see van Galilea wonderdadig deur Jesus gevoed is, vind hom die volgende dag naby Kapernaüm. Jesus wys hulle tereg en sê dat hulle na hom gesoek het omdat hulle nog ’n gratis maaltyd verwag. Hy spoor hulle aan om te werk, nie om die voedsel wat vergaan nie, maar om die voedsel wat bly tot in die ewige lewe. Die mense vra dus: “Wat moet ons doen om die werke van God te volbring?”
Jesus noem net een werk van die hoogste waarde. “Dít is die werk van God”, verduidelik hy, “dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het.”
Maar ongeag al die wonderwerke wat Jesus verrig het, beoefen die mense nie geloof in hom nie. Die vorige dag het hy 5 000 manne, sowel as vroue en kinders, wonderdadig gevoed en tog vra hulle nou sowaar: “Watter teken doen U dan, sodat ons kan sien en U glo? Wat werk U? Ons vaders het die manna in die woestyn geëet, soos geskrywe is: Hy het brood uit die hemel aan hulle gegee om te eet.”
In antwoord op hulle versoek om ’n teken verduidelik Jesus wie die Bron van wonderdadige voorsienings is deur te sê: “Dit is nie Moses wat die brood uit die hemel aan julle gegee het nie, maar my Vader gee julle die ware brood uit die hemel. Want die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee.”
“Here”, sê die mense, “gee ons altyd hierdie brood.”
“Ek is die brood van die lewe”, verduidelik Jesus. “Wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie. Maar Ek het vir julle gesê dat julle My gesien het, en tog glo julle nie. Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie. Want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag. En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê.”
Toe begin die Jode oor Jesus murmureer, omdat hy gesê het: “Ek is die brood wat uit die hemel neergedaal het.” Hulle beskou hom bloot as ’n seun van menslike ouers en opper dus dieselfde beswaar as die mense in Nasaret: “Is Hy nie Jesus, die seun van Josef, wie se vader en moeder ons ken nie? Hoe sê Hy dan: Ek het uit die hemel neergedaal?”
“Moenie onder mekaar murmureer nie”, antwoord Jesus. “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag. Dit is geskrywe in die profete: En hulle sal almal deur God geleer wees. Elkeen dan wat dit van die Vader gehoor en geleer het, kom na My toe. Nie dat iemand die Vader gesien het nie, behalwe Hy wat van God kom: Hy het die Vader gesien. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo, het die ewige lewe.”
Jesus herhaal voorts: “Ek is die brood van die lewe. Julle vaders het die manna in die woestyn geëet en het gesterwe. Dít is die brood wat uit die hemel neerdaal, sodat iemand daarvan kan eet en nie sterwe nie. Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid.” Ja, deur geloof te beoefen in Jesus, die een wat God gestuur het, kan mense vir ewig lewe. Geen manna, of enige ander sulke brood, kan dit voorsien nie!
Die bespreking oor die brood uit die hemel het klaarblyklik begin kort nadat die mense Jesus naby Kapernaüm gevind het. Maar dit het voortgegaan en het later, terwyl Jesus in ’n sinagoge in Kapernaüm onderrig het, ’n klimaks bereik. Johannes 6:26-51, 59; Psalm 78:24; Jesaja 54:13; Mattheüs 13:55-57.
◆ Watter gebeure het Jesus se bespreking oor die brood uit die hemel voorafgegaan?
◆ Waarom is die versoek om ’n teken so onvanpas met die oog op wat Jesus pas tevore gedoen het?
◆ Waarom murmureer die Jode oor Jesus se bewering dat hy die ware brood uit die hemel is?
◆ Waar het die bespreking oor die brood uit die hemel plaasgevind?