’n Merkwaardige prestasie vir Costa Rica
“JULLE doen dinge wat ons maar nog net gestudeer het!” het ’n bou-ingenieur gesê toe hy kom kyk het hoe die nuwe tak 11 kilometer buite San José, Costa Rica, opgerig word.
Wat was so merkwaardig omtrent hierdie geboue? Hulle is met die opslaanmetode gebou—die eerste keer in Costa Rica. Die fondament is eers gelê en die pilare opgerig. Toe is die betondele van die mure op die perseel in stapels opmekaar gegiet. Hierdie vooraf gegote muurgedeeltes is toe met ’n hyskraan opgeslaan en opgelig en op hulle plekke vasgesweis. Uiteindelik is die dak opgesit en moes nog net die laaste afronding gedoen word.
Hierdie projek was ook die Wagtoringgenootskap se eerste poging om ’n gebou met die opslaanmetode buite die Verenigde State op te rig. Personeel van ander takke wat beplan om te bou of aan te bou, was gevolglik byderhand om te sien hoe dit gedoen word. Ingenieurs en argitekte van ander firmas was ook teenwoordig. Almal was beïndruk deur wat hulle gesien het.
Die geboue is in die pragtige Spaans-koloniale styl, met ’n rooi pandak en boogvensters. Die oprit gaan om ’n ronde tuin na die hoofingang en portaal. Aan die regterkant is die dubbelverdiepingwoongebou met 24 kamers en ’n groot gesinsvertrek wat die biblioteek, studeerplekke en ’n mooi vuurherd bevat. Dit is verbind met ’n eetsaal wat 100 sitplekke het en ’n moderne kombuis en wassery. Aan die oorkant van die binneplein is die kantoorgebou met 13 afsonderlike kantore en ’n vergaderlokaal wat om ’n opelug- tropiese tuin onder ’n dakvenster gebou is. Die groot gebou aan die linkerkant is die pakhuis waar lektuur en ander voorrade bewaar word.
Al die besoekers was verwonder oor wat hulle gesien het. ’n Mens het herhaaldelik kommentare gehoor soos: “Dit is werk van gehalte!” “Ek het nog nooit iets so moois gesien nie!” “Dit spreek vanself dat dit ’n liefdedaad is.”
Dit is alles voorwaar deur “’n liefdedaad” moontlik gemaak. Meer as 4 700 broers en susters, waaronder 295 uit ander lande, het 24 maande lank aan die projek gewerk. Baie van die toerusting en materiaal is op die perseel vervaardig. ’n Hysbak wat vir ’n dubbelverdieping gebruik kan word en wat die broers uit toegeneentheid Julio genoem het, is byvoorbeeld in ’n vroeë stadium gebou. Sementmengers wat Bertha en Martha genoem is, is vir die projek aangekoop en opgeknap. Lampe, lamptoebehore, smeedystertraliewerk, trappe en trapportale van Palladiaanse marmer, ensovoorts, is alles vervaardig deur broers wat geen spesifieke ondervinding op hierdie gebiede gehad het nie. “Die broers in hierdie land het merkwaardige geesdrif vir die projek geopenbaar”, het die projekopsigter gesê.
Die geesdrif het op 4 Januarie 1987 ’n hoogtepunt bereik toe 13 111 mense die toewyding bygewoon het. Die balkon aan die noordelike kant van die gesinsvertrek is as ’n verhoog gebruik, en die skare het op die uitgestrekte terrein daaronder bymekaargekom. Broer M. G. Henschel en L. A. Swingle van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies was die hoofsprekers. Broer Swingle se geesdriftige toespraak was oor die tema: “Jehovah laat dit groei”, en in die toewydingstoespraak het broer Henschel almal gehelp om te besef dat ’n pragtige gebou vir Jehovah se volk nuttig is slegs as hulle aanhou om die vrugte van sy gees voort te bring.
Lede van die eerste Gilead-sendelinggesin in Costa Rica het by hierdie spesiale geleentheid bymekaargekom. Hulle is nou al bejaard en was diep geroer deur hierdie reünie en die sigbare bewys van Jehovah se ryke seën op die Koninkryksverkondigingswerk in Costa Rica deur die jare heen. AI die aanwesiges was vol vertroue dat die wonderlike voorsiening van so ’n ruim, gerieflike en doelmatige gebou sal bydra tot die verdere verheerliking van Jehovah se naam in hierdie tropiese land.
[Prente op bladsy 31]
’n Vooraf gegote muurgedeelte word opgeslaan . . . en in posisie geplaas
Sirkelvormige oprit na die gebou in Spaans-koloniale styl
’n Deel van die geesdriftige skare op toewydingsdag