Jesus se lewe en bediening
Trane verander in groot ekstase
TOE Jaïrus sien dat die vrou met die bloedvloeiing genees word, vergroot dit ongetwyfeld sy vertroue in Jesus se wonderdadige krag. Vroeër in die dag het Jaïrus Jesus gevra om sy dierbare twaalfjarige dogtertjie, wat op sterwe lê, te kom help. Maar terwyl hulle op pad is na Jaïrus se huis, wat in of naby Kapernaüm is, word ’n vrou wat bloot die soom van Jesus se kleed aanraak, genees.
Intussen word Jaïrus se grootste vrees egter bewaarheid. Terwyl Jesus nog met die vrou praat, kom daar manne aan en sê stilweg vir hom: “U dogter is dood. Waarom val u die Meester nog lastig?”
Hoe verpletterend is die nuus tog! Dink net: Hierdie man, wat groot respek in die gemeenskap afdwing, is nou heeltemal hulpeloos wanneer hy van sy dogter se dood hoor. Maar Jesus hoor die gesprek. Hy wend hom dus tot Jaïrus en sê bemoedigend: “Moenie vrees nie; glo net.”
Jesus vergesel die bedroefde man terug na sy huis. Daar tref hulle groot beroering aan, mense wat ween en huil. ’n Skare mense het vergader en hulle slaan hulleself in hulle droefheid. Wanneer Jesus ingaan, vra hy: “Waarom gaan julle so te kere en ween julle? Die kind is nie dood nie, maar slaap.”
Toe hulle dit hoor, lag die mense Jesus uit, want hulle weet dat die dogtertjie werklik dood is. Maar Jesus sê dat sy net slaap om te toon dat mense, met sy Godgegewe krag, net so maklik uit die dood teruggebring kan word as wat hulle uit ’n diep slaap wakker gemaak kan word.
Jesus laat almal behalwe Petrus, Johannes, Jakobus en die dooie meisie se moeder en vader nou uitstuur. Dan neem hy die vyf saam met hom na waar die dogtertjie lê. Jesus vat haar hand en sê: “Talita, koemi!” wat, as dit vertaal word, beteken: “Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op!” En die dogtertjie staan dadelik op en begin loop! Haar ouers is amper buite hulleself van groot ekstase toe hulle dit sien.
Nadat Jesus beveel het dat die kind iets te ete gegee moet word, beveel hy Jaïrus en sy vrou om vir niemand te vertel wat gebeur het nie. Maar ten spyte van wat Jesus sê, versprei die gerug hiervan deur daardie hele land. Dit is die tweede persoon wat Jesus opwek. Mattheüs 9:18-26; Markus 5:35-43; Lukas 8:41-56.
◆ Watter nuus ontvang Jaïrus, en hoe bemoedig Jesus hom?
◆ Wat vind hulle wanneer hulle by Jaïrus se huis aankom?
◆ Waarom sê Jesus dat die dooie kind net slaap?
◆ Watter vyf is saam met Jesus en aanskou die opstanding?