‘Dit gaan baie groot skade berokken’
DIE Eerste Wêreldoorlog het ’n enorme tol in menselewens en eiendom geëis. Die skade wat die oorlog die beeld van die Christendom se sendelinge in Afrika berokken het, is egter minder bekend. Volgens Katolieke sendeling Francis Schimlek in sy boek Medicine Versus Witchcraft was die nuus van hierdie wêreldwye oorlog “soos ’n aardbewing, waarvan die trilling so ver soos die laaste sendingstasie in die bosse van Afrika gevoel is. . . . Die boodskappers van Christus is in verleentheid gebring, en die boorling-Christene was verward.”
Waarom? Schimlek haal sendeling Albert Schweitzer aan, wat verduidelik het: “Ons weet almal dat talle Boorlinge nie kan verstaan hoe die Blankes, wat die Evangelie van Liefde gebring het, mekaar nou kan vermoor, en die bevele van die Here Jesus kan veronagsaam nie. Wanneer hulle die vraag aan ons stel, is ons hulpeloos. . . . Ek is bevrees dat dit baie groot skade gaan berokken.”