“Prys die Naam van Jehovah”
Die Duitse Demokratiese Republiek (Oos-Duitsland) het op 2 September 1986 ’n reeks seëls uitgereik wat geskiedkundige Duitse muntstukke uitbeeld. Die eerste seël in die reeks verskyn hieronder. Die muntstuk wat uitgebeeld is, dateer uit 1633. Maar die vier stralende Hebreeuse karakters wat op die muntstuk gestempel is, is van besondere belang. Wat beteken hulle? BriefmarkenweIt, ’n Duitse posseëlkundetydskrif, verduidelik: “Twee engele, wat oor die dorpsprofiel swewe, dra die naam Jehovah tussen hulle.”
Sulke muntstukke is in die 16de en 17de eeue algemeen in Europa geslaan. ’n Duitse ensiklopedie, wat uit 1838 dateer, sê: “Die term Jehovahmuntstukke sluit alle muntstukke en medaljes in waarop die woord יהוה, Jehovah, hetsy alleen of saam met die woord Jesus, stralend uitgebeeld word. . . . dikwels saam met die leuse wat daarop betrekking het; aangesien dit hoofsaaklik voorkom op baie Talers [silwermuntstukke wat tussen die 15de en 19de eeu deur verskeie Duitse state uitgereik is] is hulle saam onder die naam Jehovahtalers geklassifiseer.”
Waarskynlik weet die meeste mense wat die seël gebruik nie dat die Hebreeuse letters die naam van God voorstel nie. Maar Jehovah se Getuies wys met graagte op hierdie kenmerk van die seël en verduidelik die betekenis en belangrikheid van Jehovah se naam. Hulle word dus uit ’n onverwagte bron gehelp om ‘die Naam van Jehovah te prys’.—Psalm 135:1, vgl. NW.