Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 5/1 bl. 21
  • ’n Beloning vir getrouheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Beloning vir getrouheid
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘God is nie partydig nie’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Liefde verenig gesinne
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • ‘Die woord van God het aangehou groei’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Sê vir hulle dat jy lief is vir hulle
    Ondervindinge van Jehovah se Getuies
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 5/1 bl. 21

Koninkryksverkondigers berig

’n Beloning vir getrouheid

VYFTIEN jaar gelede het mev. B——, toe 15 jaar oud, in Italië die waarheid leer ken. Sy het egter nie vooruitgang gemaak nie en is gevolglik met ’n ongelowige getroud. Die waarheidsaad het egter in haar hart gebly, en ongeveer ’n jaar gelede het sy die Bybel saam met een van Jehovah se Getuies begin bestudeer en vergaderinge begin bywoon. Haar man was heftig gekant en het gedreig om haar uit die huis te dryf. Hy het haar so erg geslaan dat sy mediese behandeling moes ontvang. Een aand het hy gedurende ’n vergadering by die Koninkryksaal ingestorm, ’n broer geslaan, die glas in die deur gebreek en woedend geskreeu.

Toe sy by die huis kom, het haar man haar uitgesluit. Sy het nie moed verloor nie, maar het na die polisiestasie gegaan om hulle in te lig wat gebeur het en het toe by ’n tante gaan slaap. Na twee dae het haar man haar toegelaat om huis toe te kom.

Die man is welbekend in die dorp. Hy het in die openbaar teen Jehovah se Getuies begin uitvaar en gesê dat hulle sy gesin verwoes het. Die geestelikes het hom in hierdie kampanje teen die Getuies gesteun. ’n Priester het plakstroke met die volgende woorde laat druk: “JEHOVAHSGETUIES: Moenie die vrede van hierdie gesin versteur nie. DANKIE!” Hy het hierdie plakstroke aan deure in die dorp laat plak. Almal het oor Jehovah se Getuies gepraat en hulle gespot en gehoon. Ten spyte hiervan het die broers moedig gebly en groter ywer in hulle bediening aan die dag gelê. Die meeste gesinne wou nie die plakstroke aan hulle deure hê nie. Mense het gesê dat seuns wat deur die priester gestuur is 100 lira ontvang het om dit aan die deure te plak.

Intussen het mnr. B—— sy vrou meegedeel dat sy die huis sou moes verlaat, aangesien hy reeds stappe gedoen het om ’n geregtelike skeiding te verkry. Maar dinge het in hierdie dorp begin verander. ’n Plaaslike radiostasie het ’n program aangebied, en die verslaggewer het die saak as “’n set van swak smaak, van slegte maniere” beskryf. Gedurende die program het ons broers verduidelik dat die plakstroke aan talle gesinne opgedring is. Dit is bewys deur die feit dat dit gedurende die nag selfs geplak is aan die deure van party getuies van Jehovah en gesinne wat hulle besoeke verwelkom. Die radioverslaggewer het Jehovah se Getuies geprys en gesê dat hulle “uiters beleefde en baie vriendelike mense is.”

Eindelik het die tyd aangebreek vir die egpaar om voor die regter te verskyn vir die geregtelike skeiding wat die man aangevra het. Die regter het mev. B—— geprys vir haar begeerte om nie te skei nie, en hy het haar die toesig en beheer oor die kinders gegee terwyl sy vir die hofsaak gewag het. Hulle kon nog in hulle huis woon en haar man moes haar 250 000 lira per maand gee. Die man het beswaar gemaak en gesê: “Die huis behoort aan my moeder, en my vrou kan nie daar bly nie.” Die regter het geantwoord: “Jy wil eggenoot en baas wees. Jou vrou moet altyd ja sê, en sy het eenmaal nee gesê. Daarom veroorsaak jy chaos in die hele dorp. As jou vrou ontrou aan jou was, kon ek dit verstaan het, maar dit het niks met jou te doen as sy die een geloof in plaas van die ander volg nie.”

Mev. B—— dien Jehovah nou met vreugde (Mattheüs 5:10). Die dorpenaars het hulle gesindheid verander en wonderlike Bybelbesprekings vind plaas. Hulle is dit eens dat dit nie Jehovah se Getuies is wat gesinsvrede versteur nie. As daar nog plakstroke aan die deure is, beteken dit nie meer iets nie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel