Koninkryksverkondigers berig
“Verbasende streekbyeenkoms”
DIT was die hoofopskrif in ’n koerant in Martinez de la Torre, Veracruz, Mexiko, oor ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies wat in daardie stad gehou is. Die koerant het gesê: “Die groot opkoms by die streekbyeenkoms van [Jehovah se Getuies] wat by die plaaslike Tentoonstellingsterrein gehou is, is die veelseggendste bewys van ’n buitengewone verskynsel dwarsoor die wêreld in ons dag: die toenemende wantroue van mense in die sogenaamd ‘Christelike’ kerke en die vaste oortuiging dat die omvang van die probleme onrusbarend groter is as die vermoë van regerings om dit op te los.
“Nog nooit het ’n politieke vergadering of sosiale geleentheid so ’n groot skare, wat sulke ordelikheid en reinheid openbaar, gelok nie. Dit was eenvoudig verbasend om te sien hoe 5 000 mense aandagtig luister na ’n program wat uitsluitlik op inligting uit die Bybel gebaseer is en wat handel oor aspekte van die daaglikse lewe, van die opvoeding van ’n kind en gesinslewe tot sedelikheid en geestelike welsyn, tesame met die dramatisering van Bybelverhale en die hedendaagse toepassing daarvan.”
Nadat dit kommentaar gelewer het oor die “oorweldigende blyk van gekoördineerde doeltreffendheid en organisasie”, het die nuusberig verder gesê: “Die belangrikheid van die werk wat deur die plaaslike Jehovahsgetuies gedoen word, kan gemeet word aan die resultate wat dit in slegs ’n paar jaar opgelewer het. Dit is vandag ’n organisasie wat met rasse skrede vooruitgaan, wat glad nie van stryk gebring word deur die negatiewe kommentaar wat hulle gewoonlik omring nie. Enige negatiewe ding wat hulle toegeslinger word, verdwyn in die niet wanneer ’n mens hulle standpunt waarneem oor die dinge om huIle, die ordelike manier waarop hulle uitbrei, hulle eerbied vir gesag en hulle groot waardering vir sindelikheid en goeie taalgebruik.
“Hierdie Bybelstudente bestaan bykans geheel en al uit voormalige aktiviste van verskillende gelowe, hoofsaaklik Katolieke, wat gesien het dat godsdiens oorhel na die politiek en dat dit onbybelse gebruike soos godsdiensvermenging, onsedelikheid en geweld aanvaar en goedkeur. Dit was vir hulle ’n bron van bevrediging om hulle te skik na die Bybel se gedragsbeginsels sonder om hulle na afgodediens of tradisies met ’n obskure oorsprong te wend. Dit het hulle lofwaardige eenheid van geloof gegee wat hulle van ander onderskei waar hulle ook al gaan.”
Hierdie woorde herinner ons aan die beginsel van Jesus: “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken” (Mattheüs 7:16). Baie regskape persone in Mexiko besef dat die leer van Jehovah se Getuies op die Bybel gebaseer is, asossieer met hulle en ontvang ryk, geestelike seëninge van Jehovah God.
[Prent op bladsy 29]
’n Tipiese byeenkomstoneel in Mexiko