Koninkryksverkondigers berig
Argentinië se voortreflike byeenkomste
“JEHOVAH SE GETUIES het geleer om sonder geweld of promiskuïteit, sonder tabak of sterk drank, sonder buitensporigheid van enige aard te vergader. Dis ongetwyfeld ’n les vir ’n gemeenskap soos ons s’n, wat amptelik met Katolisisme geïdentifiseer word en wat dit nietemin moeilik vind om groot saamtrekke by voetbalvelde te hê sonder voorvalle van onverdraagsaamheid, wat soms tragies is”, berig die tydskrif Flash in Argentinië. Dit was ’n kommentaar oor een van die vier “Handhawers van onkreukbaarheid”-Streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies wat in Januarie 1986 in Argentinië gehou is. Die broers was inderdaad verheug toe hulle sien dat 97 736 die vier byeenkomste bygewoon het. Dit was vir hulle ’n vreugdevolle geleentheid om nagenoeg 600 van hulle broers uit 19 ander lande en 5 vastelande saam met hulle daar te hê. Hulle het hulle ook verheug in die wete dat sowat 40 000 van die 97 736 byeenkomsgangers belangstellendes was.—Psalm 122:1.
Die koerante het die byeenkomsgangers hoog geprys vir hulle goeie organisasie en gedrag. Die koerant La Razon het die volgende gesê oor die byeenkoms in Buenos Aires in die River Plate-stadion wat deur 57 000 bygewoon is: “Orde, sindelikheid en ’n merkbare stilte is kenmerkend . . . Die bywoning van die gelowiges het volmaakte organisasie getoon . . . orde wat selde onder ’n skare gevind word.”
Die koerant La Nacion het berig oor die byeenkoms wat in Rosario gehou en deur 15 000 bygewoon is: “Ondanks die aantal mense wat deur Jehovah se Getuies genooi is, was daar nie eens een polisieman te sien nie, en daar was absolute orde.”
Die byeenkomsgangers het van alle moontlike vervoermiddels gebruik gemaak om by hierdie byeenkomste te kom: vliegtuie, treine, busse, motors en fietse. Meer as 870 busse en een trein is gehuur om die byeenkomsgangers van die Rio Negro-vallei in die suide van die land na die River Plate-byeenkoms te bring. ’n Belangstellende het in vier dae 800 kilometer per fiets afgelê om die byeenkoms in Córdoba by te woon.
Waarom al hierdie moeite om die byeenkomste by te woon? Dit is omdat Jehovah se Getuies intens bewus is van hulle geestelike behoefte (Mattheüs 5:3, NW). Die koerant Clarin het gesê: “Die raad, die spontane vermanings en die Bybelverklarings is noukeurig gevolg deur duisende manne en vroue wat aantekeninge gemaak het wanneer ’n Bybelgedeelte aangehaal is, die Bybel oopgeslaan en die teksverwysing nageslaan het.” La Voz del Inferior in Córdoba het gesê: “Die byeenkoms het klem gelê op hoe nodig dit is om te leer hoe om die wet van God nougeset na te kom, selfs in besonderhede soos in omgang, musiek en kleredrag.”
Die kommentaar wat een man ’n ruk na die byeenkoms gelewer het, lig die trefkrag toe van die inligting wat daar aangebied is: “Van daardie dag [by die byeenkoms] af het my lewe heeltemal verander. Ek kom beter oor die weg met die lede van my gesin. Ek werk beter. Ek is baie bly dat ek julle kon leer ken en kon besef dat daar nog goeie mense is, mense wat hulle naaste uit liefde vir Jesus help. Vroue wat beskeie aantrek, niemand wat rook of drink nie. ’n Ware paradys, met soveel mense wat eensgesind is en optree of hulle een groot gesin is.”
Sulke kommentare help ons om te besef dat dit Jehovah se gees is wat sulke orde en liefde moontlik maak.