Jesus se lewe en bediening
Jesus se eerste wonderwerke
JESUS en sy nuwe dissipels het pas die Jordaanvallei verlaat. Dit is slegs ’n dag of twee sedert Andreas, Petrus, Johannes en moontlik Jakobus, Filippus en Natanael Jesus se eerste dissipels geword het.
Hulle is nou op pad huis toe na die streek Galilea, waarvandaan hulle almal kom. Hulle bestemming is Kana, Natanael se tuisdorp, wat geleë is in die heuwels naby Nasaret waar Jesus self grootgeword het. Hulle is na ’n bruilof in Kana uitgenooi.
Jesus se moeder het ook na die troue toe gekom. As ’n vriendin van die paartjie se familie het Maria skynbaar begin help om die talle gaste te bedien. Sy kom dus gou ’n tekort agter en sê vir Jesus: “Hulle het geen wyn nie.”
Toe Maria as ’t ware voorstel dat Jesus iets omtrent die tekort aan wyn doen, is Jesus aanvanklik teësinnig. “Wat het Ek met u te doen?” vra hy. As God se aangestelde Koning kan hy nie deur familie of vriende aangesê word wat om te doen nie. Maria laat dus wyslik die saak aan haar seun oor en sê bloot aan die dienaars: “Net wat Hy vir julle sê, moet julle doen.”
Wel, daar is ses groot klipkanne, wat elkeen meer as 37 liter hou. Jesus beveel die dienaars: “Maak die kanne vol water.” En die dienaars maak hulle tot bo toe vol. Toe sê Jesus: “Skep nou uit en bring dit vir die hoofdienaar.”
Die hoë gehalte van die wyn beïndruk die hoofdienaar aangesien hy nie besef dat dit wonderdadig gemaak is nie. Hy roep die bruidegom en sê: “Elke mens sit eers die goeie wyn op en, wanneer hulle goed gedrink het, dan die slegste; maar u het die goeie wyn tot nou toe bewaar.”
Dit is Jesus se eerste wonderwerk, en dit versterk sy nuwe dissipels se geloof. Daarna reis hulle, saam met sy moeder en sy broers, na die stad Kapernaüm naby die See van Galilea. Johannes 2:1-12.
♦ Wanneer vind die bruilof in Kana plaas?
♦ Waarom maak Jesus beswaar teen sy moeder se voorstel?
♦ Watter wonderwerk verrig Jesus, en hoe word ander daardeur geraak?