Jesus se lewe en bediening
Jesus se eerste dissipels
NA 40 dae in die woestyn gaan Jesus weer na Johannes toe wat hom gedoop het. Terwyl hy nader kom, roep Johannes uit: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: ‘Ná my kom daar ’n Man wat my vóór is, want Hy was voor my reeds daar.’” Hoewel Johannes ouer is as sy neef Jesus, weet Johannes dat Jesus voor hom bestaan het as ’n geespersoon in die hemel.
Die volgende dag staan Johannes by twee van sy dissipels. Toe Jesus nader kom, sê hy weer: “Dáár is die Lam van God!” Hierna volg hierdie twee dissipels van Johannes die Doper Jesus. Die een is Andreas, en die ander een is skynbaar die einste persoon wat hierdie dinge neergeskryf het, naamlik Johannes. Hierdie Johannes is vermoedelik ook ’n neef van Jesus, aangesien hy ’n seun van Maria se suster Salome is.
Toe hy omkyk en sien dat Andreas en Johannes hom volg, vra Jesus: “Wat soek julle?”
“Meester”, vra hulle, “waar is U tuis?”
“Kom kyk”, antwoord Jesus.
Dit is omtrent vieruur in die middag en Andreas en Johannes bly die res van die dag by Jesus. Daarna is Andreas so opgewonde dat hy hom haas om sy broer, wat Petrus genoem word, te vind. “Ons het die Messias gevind”, sê hy vir hom. En hy neem Petrus na Jesus toe. Johannes gaan haal moontlik intussen sy broer Jakobus en bring hom na Jesus toe; maar tipies van Johannes laat hy hierdie persoonlike inligting uit sy Evangelie.
Die volgende dag kom Jesus Filippus teë en nooi hom: “Volg My.” Filippus kry toe vir Natanael, wat ook Bartholomeüs genoem word, en sê: “Ons het Hom gevind van wie Moses in die wet en ook die profete geskrywe het: Jesus, die seun van Josef van Nasaret.” Natanael twyfel. “Kan daar uit Nasaret iets goeds wees?” vra hy.
“Kom kyk”, nooi Filippus. Toe hulle by Jesus kom, sê hy vir Natanael: “Voordat Filippus jou geroep het toe jy onder die vyeboom was, het ek jou gesien.”
Natanael is verstom. ‘Meester, U is die Seun van God, U is die Koning van Israel’, antwoord hy.
Kort hierna verlaat Jesus en sy nuwe dissipels die Jordaanvallei en reis na Galilea. Johannes 1:29-52.
♦ Wie was Jesus se eerste dissipels?
♦ Hoe is Petrus, en moontlik Jakobus, aan Jesus voorgestel?
♦ Wat het Natanael daarvan oortuig dat Jesus die Seun van God was?