Koninkryksverkondigers berig
Jehovah seën godvrugtige ywer
JESUS het godvrugtige ywer gehad. Toe hulle sy godvrugtige ywer gesien het, het sy dissipels die profesie omtrent hom onthou: “Die ywer vir u huis het my verteer” (Johannes 2:17). Hierdie ywer het duidelik in sy bediening geblyk: “Onderwyl Hy geleer het . . ., het Hy stede en dorpe deurgegaan”, en hy het vir sy dissipels gesê om ‘hard te stry’ (Lukas 13:22-24). Jehovah het destyds die godvrugtige ywer van Jesus se dissipels geseën, en hy doen dit vandag soos die volgende ondervindinge uit Uruguay toon.
◻ Twee vroue wat Jehovah se Getuies was, het nagenoeg 70 kilometer van die naaste gemeente gewoon. Aangesien hulle so afgesonderd was, het hulle besluit om weeklikse vergaderinge in hulle huis te hou waarheen hulle belangstellendes genooi het. Hulle was baie ywerig ondanks hulle afsondering. Die een het ses Bybelstudies gehou, en die ander sewe. Met die kringopsiener se besoek het 36 volwassenes sy toespraak bygewoon. Een van die susters het vyf kinders in die waarheid grootgemaak, en vandag dien hulle almal ywerig in Jehovah se organisasie. Jehovah het ongetwyfeld die godvrugtige ywer van hierdie twee susters geseën.
◻ ’n Ander suster het godvrugtige ywer getoon deur gereeld met haar kinders 11 kilometer te stap om gemeentevergaderinge by te woon, en sy het gewoonlik ’n uur voor die tyd by die vergaderplek aangekom. Sy het nooit gemeen dat, aangesien die boekstudie net ’n uur lank was, dit nie die moeite werd sou wees om daardie lang afstand te stap wanneer sy die boek eenvoudig tuis kon lees nie. Vandag tel sy haar seëninge. Haar uitstekende voorbeeld van selfopoffering, volharding en vasbeslotenheid as vrou en moeder het ’n kragtige invloed op haar kinders gehad. Hulle is al ses in die waarheid. Een seun, wat ’n pionier is, toon dieselfde ywer deur 58 kilometer met sy fiets te ry om na ’n afgesonderde groep om te sien. Hy moet op pad soontoe ’n rivier met sy fiets oorsteek. Jehovah seën ook sy godvrugtige ywer.
◻ In 1982 het ’n groep broers in afgesonderde gebied gewerk en talle boeke geplaas. Hulle het die daaropvolgende jaar na dieselfde gebied teruggekeer. By een huis is ’n baie ongewone beswaar geopper. Nadat hy na hulle Bybelaanbieding geluister het, het die huisbewoner gesê dat hy nie sy godsdiens wil verander nie, aangesien hy meen hy reeds die waarheid het. Hy het gesê: “Jy sien, ek is een van Jehovah se Getuies.” Hy was verheug toe hy uitvind dat sy besoekers ook Jehovah se Getuies is.
Hy het verduidelik dat hy nie by die huis was toe die broers in die gebied gewerk het nie, maar dat sy gesin lektuur aanvaar het. Hy het dit gelees, besef dat dit die waarheid van die Bybel leer en sy bure begin vertel wat hy geleer het. Die broers het reëlings getref om hierdie nuwe ‘skaap’ te help om tot rypheid te vorder en werklik een van Jehovah se volk te word.
Ja, Jehovah seën godvrugtige ywer vir ware aanbidding. Ons is bly om deel te wees van Jehovah se wêreldwye broederskap en ons wil hierdie godvrugtige ywer vir die bediening toon. Die feit dat ons bevry is van Satan se goddelose stelsel en gereinig is deur Bybelwaarheid moet ons aanspoor om “ywerig in goeie werke” te wees.—Titus 2:14.