Welkom by die „Handhawers van onkreukbaarheid”-byeenkoms vir 1985!
JEHOVAH SE GETUIES is nie alleen bekend vir hulle ywerige werk van huis tot huis nie, maar ook vir hulle groot Christelike byeenkomste. Dit is nou al meer as honderd jaar, trouens, van 1879 af, dat hierdie byeenkomste gehou word. En daar is ’n goeie Skriftuurlike presedent daarvoor.
Die Israeliete moes drie maal elke jaar byeenkom vir hulle feeste. Jehovah het hierdie feeste so belangrik geag dat hy Moses herhaaldelik die belangrikheid daarvan in die Pentateug laat benadruk het. Kyk Exodus 23:14-17; 34:22-24; Levitikus 23:4-22; Numeri 28:16-29:12; Deuteronomium 16:1-16. Ons lees ook dat Jesus se ouers gereeld na Jerusalem gegaan het vir die paasfees.—Lukas 2:41, 42.
Die afgelope 38 jaar volg byeenkomste van Jehovah se Getuies ’n soortgelyke patroon as dié in eertydse Israel. Twee maal per jaar kom ons vreugdevol byeen vir ons kringbyeenkomste, met tussen 8 en 20 gemeentes teenwoordig. Dan sien ons met afwagting uit na ons jaarlikse streek-, nasionale of internasionale byeenkomste. Waardeer ons hierdie samekomste soos ons moet? Nie al ons broers oor die aarde geniet hierdie seën nie. ’n Onlangse berig uit ’n Balkanland waar die werk al lank beperk is, vertel dat „ons vir die eerste keer ’n streekbyeenkoms in ’n openbare saal kon hou . . . Die broers was baie bly daaroor.”
Hulle het rede gehad om bly te wees, want hoe meer Getuies bymekaarkom, hoe groter die vreugde. Een land het in 1983 berig dat „die ,Koninkrykseenheid’-byeenkoms in Desember voorwaar die glanspunt van die jaar was”, en ’n ander het dit „die hoogtepunt van die jaar” genoem. Dit is geen wonder nie dat die meeste van Jehovah se Getuies reëlings tref, dikwels met groot selfopoffering, om streekbyeenkomste die volle drie en ’n half dae by te woon.
Verlede jaar was ons bevoorreg om die „Koninkryksvermeerdering”-byeenkoms by te woon. Die program het getoon hoe gepas daardie tema was in die lig van die groot vermeerderinge in Koninkryksverkondigers wêreldwyd. Dit het boonop die pligte van elke individuele Getuie in verband met daardie vermeerdering beklemtoon. En watter puik instrumente het ons tog nie vir ons bediening ontvang nie—die naslaanuitgawe van die New World Translation of the Holy Scriptures, die Bybelstudiehulp Oorlewing tot in ’n nuwe aarde en die brosjure The Divine Name That Will Endure Forever! Vanjaar wag daar nog ’n seën op ons! Ons sien uit na die „Handhawers van onkreukbaarheid”-byeenkoms. Hierdie tema wys op die belangrikheid daarvan om deel te hê aan die regverdiging van Jehovah se naam deur ons onkreukbaarheid tot aan die einde van Satan se stelsel te handhaaf.
Hoe belangrik is daardie tema tog! Dit hang saam met die belangrikste geskil waarvoor alle intelligente skepsele te staan kom, naamlik die regmatigheid van Jehovah se soewereiniteit, soos verdedig deur skepsele wat hulle onkreukbaarheid handhaaf in weerwil van alles wat Satan die Duiwel kan doen. Dit is nie maklik om in hierdie „swaar tye” ’n handhawer van onkreukbaarheid te wees nie (2 Timotheüs 3:1-5). Dit is presies die teenoorgestelde van die maklike weg. Dit beteken dat ’n mens ingaan deur die nou poort en wandel op die smal pad wat na die lewe lei’.—Mattheüs 7:13, 14.
Daar is twee basiese vereistes vir diegene wat as bedienaars van Jehovah God onkreukbaarheid wil handhaaf. Enersyds is daar die nodigheid om die vrug van die gees voort te bring sodat ons „die leer van God, ons Verlosser, in alles kan versier” (Titus 2:10). Andersyds het ons die opdrag om te preek en dissipels te maak, terwyl ons deelneem aan die vervulling van Bybelprofesie.—Mattheüs 24:14; 28:19.
Om aan hierdie twee vereistes te voldoen, moet ons aanhou om eers die Koninkryk en God se geregtigheid te soek. Ons moet stry teen al die liste van Satan die Duiwel, al die versoekinge wat hierdie ou wêreld in ons weg lê in die vorm van materialisme en genotsug, en ons moet maak soos Paulus gemaak het, naamlik ,ons liggame kasty en dit diensbaar maak’ (1 Korinthiërs 9:27; 1 Petrus 5:8; 1 Johannes 2:15-17). Dit is geen maklike taak om die dinge wat ons onkreukbaarheid bedreig te bowe te kom nie.
As ons ten volle besef watter uitdaging dit is om ons onkreukbaarheid te handhaaf, sal ons ,bewus wees van ons geestelike behoefte’ wanneer ons na die byeenkoms kom (Mattheüs 5:3, NW). Ons sal aandagtig luister na wat van die verhoog af gesê word, aantekeninge maak, hartlik saam sing en aandag skenk aan die gebede. Ons wil ook goed luister na die raad oor hoe ons ons onkreukbaarheid teenoor Jehovah God, ons huweliksmaat en ons mede-Christene kan bewaar. Deur middel van toesprake, onderhoude, demonstrasies en dramas sal ons aangespoor en toegerus word om ons onkreukbaarheid tot aan die einde van hierdie bose ou stelsel te handhaaf, kom wat wil.
Nog iets wat ons in gedagte wil hou, is die feit dat ons groot byeenkomste ’n getuienis vir die wêreld is. In Januarie vanjaar is die vierdaagse „Koninkryksvermeerdering”-byeenkoms by die River Plate-stadion in Buenos Aires, Argentinië, gehou. Dit was groot nuus! In die plaaslike nuusblad Ahora was daar ’n mooi berig en kleurfoto’s van die byeenkoms, met die hoofopskrif „Geloof vul Stadions”.
Onder ’n groot opskrif , „’n Koninkryk wat groei—dié van Jehovah se Getuies”, het ’n artikel van twee bladsye onder meer gesê: „Voorwaar ongelooflik. Sien is glo. Geloof versit berge. Dit moet geloof wees wat gemiddeld 42 000 mense beweeg het om stil en met lofwaardige ordelikheid die voetbalpaviljoene van die River Plate-stadion gedurende vier dae van hierdie versengende somer te vul. Dit moet ook geloof wees wat nie minder nie as 46 000 gelowiges sonder inagneming van geslag, ouderdom, kultuur, ras of nasionaliteit kon bymekaarbring vir die laaste dag van die streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies. . . . Of ons dit met hulle opvattings of leerstellings eens is of nie, hierdie hele skare verdien ons grootste respek. Hulle is nederig, ver verwyder van die onbenullighede van die daaglikse lewe en die hedendaagse wêreld wat dit ons lot is om te deel; hulle maak ’n dogma van vrede en liefde onder die broers.”
Die artikel het verder gesê: „Wat van hulle organisasie? Dit was volmaak. Die polisie wat daarheen aangewys is, was verveeld omdat hulle niks gehad het om te doen nie . . . Nie eers ’n geringe insident, provokasie of relletjie het gedurende die vier dae voorgekom nie. . . . Ons word gelaat met ’n onmeetlike vrede wat die Getuies skynbaar besit . . . Reg of verkeerd, hulle het ons respek afgedwing. Wat beweeg hulle? Daardie geloof. Daardie geloof wat berge versit.”
Dit ly geen twyfel dat ons ’n goeie getuienis aan buitestaanders kan gee deur ons gedrag as Christenbedienaars van Jehovah God nie. Dit is waar dat die lewe van ’n Christen nog nooit maklik was nie. Jesus het gesê dat sy volgelinge ’n folterpaal moet opneem. Ons sal gehelp word om goeie volgelinge van Jesus Christus te wees as ons ons „Handhawers van onkreukbaarheid”-byeenkoms ten beste benut.—Mattheüs 16: 24, NW.