Vrae van lesers
▪ Abraham (en later Isak) het sy vrou as sy suster voorgestel. Was dit ’n voorbeeld van die vrou-suster-verhouding wat eens in die Midde-Ooste bestaan het?
Hedendaagse geleerdes het daardie teorie aangevoer, maar daar steek skynbaar meer agter Abraham en Isak se gedrag.
Professor E. A. Speiser het die vrou-suster-gedagte in The Anchor Bible gestel. Hy het melding gemaak van ontdekkings in verband met die eertydse Horiete wat vermoedelik geleef het in noordelike Mesopotamië, wat Haran insluit waar Abraham ’n tyd lank gewoon en waar Rebekka moontlik gewoon het. Speiser het geskryf:
„In die Horitiese gemeenskap was die huweliksband die sterkste en plegtigste wanneer die vrou terselfdertyd die regstatus van ’n suster gehad het, ongeag werklike familiebande. Dit is waarom ’n man soms, in twee afsonderlike stappe wat in verskillende regsdokumente aangeteken is, met ’n meisie getrou en haar terselfdertyd as sy suster aangeneem het. Skendings van hierdie sustersooreenkomste is swaarder gestraf as die verbreking van ’n huwelikskontrak . . . Bewyse van die vrou-suster-verhouding word veral in die boonste lae van die Horitiese gemeenskap aangetref . . . Nie alleen was Rebekka ’n boorling van Horities oorheersde Har(r)an nie, maar dit was eintlik haar broer Laban wat haar, deur ’n tussenganger, as vrou aan Isak gegee het . . . Daar is voldoende gronde om die twee huwelike, dié van Abraham en Sara en van Isak en Rebekka, in die vrou-suster-kategorie te plaas.”
Die Genesis-geskiedenis deel ons mee dat Abraham sy vrou Sara (wat werklik sy halfsuster was) twee maal as sy suster, en nie as sy vrou nie, voorgestel het. Dit het gebeur toe hulle in Egipte en later in Filistea was (Genesis 12:10-20; 20:1-7). Isak het dieselfde gedoen met Rebekka. Aangesien Isak en Rebekka aan mekaar verwant was, kon hy haar sy suster noem.—Genesis 26:6-11.
In hierdie gevalle wou Abraham en Isak hê dat mense hulle vrouens as hulle „suster” beskou omdat dit vir die mans gevaar kon inhou as dit bekend geword het dat die beeldskone vroue getroud was (Genesis 12:12; 26:9). Dit lyk dus nie of die mans hulle op ’n vermeende vrou-suster-status beroep het om hulle te beskerm nie; die doel was om die huwelikstatus van Sara en Rebekka te verswyg.
Abraham het met sy halfsuster getrou voordat God aan Israel wette gegee het waarin sulke huwelike verbied is. Baie staan nietemin krities teenoor die feit dat hy (en Isak) sy vrou as sy suster voorgestel het. Ons moet natuurlik nie vergeet dat die Bybel soms gebeure verhaal sonder dat dit die betrokke gedrag goedkeur nie (Genesis 9:20, 21; 19:30-38). Daar is egter ’n beskouing van Abraham/Sara en Isak/Rebekka se optrede wat strook met die goeie naam wat hulle by God gehad het.
Voor hierdie gebeurtenisse het God vir Abraham gesê: „Ek sal jou ’n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ’n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word” (Genesis 12:2, 3). Jehovah het ook aangedui dat die seën van Abraham se nageslag afgehang het. (Genesis 12:7; vergelyk Genesis 15:4, 5; 17:4-8; 22:15-18.) Abraham (en later Isak) moes derhalwe aan die lewe bly om ’n nageslag te verwek.
Dit was heel moontlik die rede waarom Abraham en Isak hulle getroue vrouens as hulle susters voorgestel het. Die feit dat die geslagslyn in gevaar gestel kon word indien dit uitgelek het dat Abraham die wettige man van begeerlike Sara was, en Isak van pragtige Rebekka, het hierdie geloofsmanne moontlik laat besluit dat dit verstandig sou wees om nie hierdie verhouding bekend te maak terwyl hulle in gevaarlike gebied was nie.
Sara word uitgelig as ’n voorbeeld van geloof en ’n vrou wat „op God gehoop het” (1 Petrus 3:5, 6; Hebreërs 11:11). Sy het haar aan die besluit van haar gesinshoof onderwerp en ’n tyd lank nie laat blyk dat sy getroud is nie. Dit sal welwillend wees om dit as ’n blyk van onselfsugtigheid te beskou, ’n onderdrukking van persoonlike gevoelens en belange sodat die hele mensdom ’n seën kon verkry. En aangesien Jehovah haar teen Farao en later teen Abimeleg, koning van Gerar, beskerm het, is dit te verstane dat Rebekka met vertroue soortgelyk opgetree het in samewerking met Isak, wat ook ’n groot geloofsman was.—Hebreërs 11:20.
Hetsy mense in Kanaän en Egipte geweet het van die vrou-suster-status wat skynbaar in Haran bestaan het al dan nie, die optrede van Abraham/Sara en Isak/Rebekka het, in die lig van wat daarby betrokke was, uit verhewe beginsels en oogmerke gespruit.