Vrae van lesers
▪ Het die feit dat Jesus soveel wyn by die bruilof in Kana gemaak het, aangedui dat honderde daardie fees bygewoon het?
Jesus het op wonderdadige wyse ’n groot hoeveelheid goeie wyn voorsien, genoeg vir ’n groot groep, maar ons hoef nie te dink dat hy net gemaak het wat nodig was nie of dat dit alles by die fees opgedrink is nie.
Johannes 2:6-9 se dat Jesus “volgens die reinigingsgebruike van die Jode ses klipkanne . . . wat elkeen twee of drie ankers [“vloeistofmate”, NW] hou” met water gevul het. Jesus het beveel: “Maak die kanne vol water.” Hulle het dit gedoen en het dit “tot bo toe” gevul. Daar word gemeen dat elke vloeistofmaat ’n “bat” was, wat gelyk was aan 22 liter. As dit die geval is, het die ses waterkanne ongeveer 260 tot 390 liter gehou.—1 Konings 7:26; Esra 7:22; Esegiël 45:14.
Jesus en sy dissipels het by daardie fees gebly, waaruit dit blyk dat matigheid voor oë gehou is. Ons kan gevolglik redeneer dat honderde daar teenwoordig was, anders sou Jesus dit nie nodig geag het om soveel wyn te maak nie. Maar Jesus het by ander geleenthede toe hy as ’n wonderdadige voorsiener opgetree het nie die nodige minimum voorsien nie. Toe hy brode en vissies vermeerder het om 4 000 manne, buiten die vroue en kinders, te voed, het die oorskot agterna “sewe mandjies” gevul, rietmandjies wat groot genoeg was om ’n man te hou (Mattheüs 15:32-38; Handelinge 9:25). Dit kan eweneens die geval wees dat daar genoeg wyn aan die einde van die fees in Kana was vir toekomstige gebruik, aangesien wyn ’n algemene drank by maaltye was. Dit sou beklemtoon het dat Jesus, net soos sy Vader, vrygewig was.—Handelinge 14:17; vergelyk Mattheüs 14:14-21.
Dus is die bruiloffees in Kana dalk deur talle van Kana en omgewing bygewoon, maar die hoeveelheid wyn wat Jesus gemaak het, bewys nie noodwendig dat etlike honderde teenwoordig was nie.
▪ Is dit korrek om uit Johannes 20:25 af te lei dat Jesus met ’n afsonderlike spyker deur elke hand aan die paal genael is?
Die Cyclopaedia of Biblical, Theological, and Ecclesiastical Literature, deur M’Clintock en Strong sê:
‘Die vraag of drie of vier spykers gebruik is om die Here vas te nael, het al baie tyd en moeite in beslag geneem. Nonnus bevestig dat slegs drie gebruik is, en hierin word hy deur Gregory Nazianzen gesteun. Volgens die algemene beskouing is dit vier spykers, ’n mening wat Curtius breedvoerig en met vreemde redenasies ondersteun. Ander het selfs die aantal spykers tot op veertien aangegee.’—Deel II, bladsy 580.
Mattheüs 27:35 sê bloot: “Nadat hulle Hom gekruisig het, het hulle sy klere verdeel deur die lot te werp.” Soos in Markus, Lukas en Johannes word min besonderhede gegee. Na Jesus se opstanding het Thomas gesê: “As ek nie in sy hande die merk van die spykers sien en my vinger steek in die merk van die spykers en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie” (Johannes 20:25). Hoewel misdadigers soms met toue aan ’n paal vasgebind is, was Jesus dus vasgespyker. Sommige het ook uit Johannes 20:25 afgelei dat twee spykers gebruik is, een deur elke hand. Maar moet Thomas se gebruik van die meervoud (spykers) verstaan word as ’n presiese beskrywing wat aandui dat elk van Jesus se hande met ’n afsonderlike spyker deursteek is?
In Lukas 24:39 het die verrese Jesus gesê: “Kyk na my hande en my voete, want dit is Ek self.” Dit gee te kenne dat Christus se voete ook vasgespyker is. Aangesien Thomas geen melding van spykermerke in Jesus se voete maak nie, kon sy gebruik van die meervoud “spykers” ’n algemene vermelding gewees het van al die spykers wat gebruik is om Jesus aan die paal te nael.
Dit is dus nie op hierdie stadium moontlik om met sekerheid te sê hoeveel spykers gebruik is nie. Enige tekeninge van Jesus aan die paal moet as kunstenaarsvoorstellings verstaan word wat bloot ’n afbeelding is wat gebaseer is op die beperkte feite wat ons het. Ons moenie toelaat dat debattering oor so ’n onbeduidende besonderheid die allerbelangrikste waarheid dat ons “met God versoen is deur die dood van sy Seun” op die agtergrond skuif nie.—Romeine 5:10.
▪ Beteken die materiaal oor goedkeuring deur God dat Christene met iemand kan praat wat eens as ’n “goedgekeurde metgesel” beskou is, maar later, vanweë oortreding, vermy moes word?
Ja, dit beteken ’n mens kan. Die Wagtoring van 15 November 1988 het getoon waarom dit skriftuurlik is om ons beskouing van ’n ongedoopte persoon wat aan die openbare bediening van Jehovah se Getuies deelneem te wysig. So ’n persoon is voorheen ’n “goedgekeurde metgesel” genoem. As hy daarna God se wette onberouvol verbreek het, is die gemeente gewaarsku, en die gemeentelede sou dan omgang en gesprekke met hom vermy.
Soos die onlangse materiaal getoon het, vereis die Bybel dat sulke tugmaatreëls geneem word in die geval van gedoopte persone wat onberouvolle oortreders is (1 Korinthiërs 5:11-13; 2 Johannes 9-11). Maar die aanspreeklikheid van ’n ongedoopte persoon wat in oortreding volhard, is nie dieselfde as dié van iemand wat gedoop is nie (Lukas 12:48). Hy is nie gedoop nie en is gevolglik in God se oë nie goedgekeur nie, en derhalwe is uitsetting in sy geval nie gepas nie. Basies is hy nou ’n wêreldse persoon en kan hy dienooreenkomstig behandel word.
Maar sê nou iemand wat voorheen ’n “goedgekeurde metgesel” genoem is, voldoen nie meer aan die vereistes vir die openbare bediening nie vanweë sy verkeerde handelwyse. Wat dan? Aangesien hy nie uitgesit is nie, moet hy soos die wêreldse persoon wat hy wel is, behandel word.a Die Wagtoring van 15 November het natuurlik op bladsy 19 gemaan dat lojale Christene die nodige versigtigheid aan die dag moet lê. Hulle besef dat die ongedoopte persoon heel moontlik oortree het, ondanks die feit dat hy kennis van God se vereistes het. Ryp Christene moet versigtig wees wat sosiale omgang met so ’n persoon betref. As vrae opduik oor hoeveel omgang ons met so ’n persoon kan hê, kan die meeste hiervan beantwoord word deur goddelike raad te volg. Ons kan peins oor raad soos die wat in 1 Korinthiërs 15:33 en Spreuke 13:20 gevind word en onsself afvra: ‘Watter omgang sal ek waarskynlik hê met ’n persoon van die wêreld wat nie volgens Christelike standaarde lewe nie?’ As die ouere manne sien dat so ’n wêreldse persoon enige bedreiging inhou, kan hulle diegene in die gemeente wat blykbaar in gevaar verkeer privaat raad gee om hulle te waarsku.
’n Ongedoopte persoon wat ’n “goedgekeurde metgesel” was, kan mettertyd redelike bewys van berou lewer, en hy wil dalk weer ’n Bybelstudie hê (Handelinge 26:20). Hy kan met die ouere manne in die gemeente waar hy nou vergaderinge bywoon, praat, en hulle sal, as dit raadsaam is, reël dat ’n Bybelstudie met hom gehou word. Dit sal ook van toepassing wees as iemand in die toekoms nie meer aan die vereistes vir ’n ongedoopte verkondiger voldoen nie en later berou toon. Hy moet gewoonlik praat met die twee ouere manne wat die saak van sy oortreding behartig het of die twee ander wat deur die liggaam van ouere manne gekies is om die saak te ondersoek as hy dit versoek het.
Die Wagtoring het gepas verduidelik dat dit ietwat anders in die geval van ouers is wat vir minderjarige kinders in die huis moet sorg—daardie wetlik afhanklike minderjariges wie se materiële onderhoud hulle verantwoordelikheid is (Efesiërs 6:1-4). Die Skrif lê ouers die plig op om hulle kinders te onderrig en te lei. Die ouers (of gelowige ouer) kan dus besluit om ’n privaat Bybelstudie met die minderjarige te hou wat oortree het, of om hom in die gesinsprogram van Bybelstudie en bespreking in te sluit.
Hoewel die onlangse materiaal in Die Wagtoring ’n aanpassing in ons denke en handelwyse verg, word dit ooreenkomstig die Skrif gedoen wat nuttig is “tot onderwysing in die geregtigheid”.—2 Timotheüs 3:16, 17.
▪ Moet ’n man se kinders, met die oog op Titus 1:6, almal gedoop wees sodat hy as ’n ouere man in die gemeente kan kwalifiseer?
In die eerste hoofstuk van Titus het die apostel Paulus vereistes uiteengesit vir manne wat as gemeentelike ouere manne dien. Een was dat ’n broer “onberispelik is, . . . gelowige kinders het”.
Dit kan nie beteken dat ’n ouere man se kinders almal gedoop moet wees nie, want sommige is dalk babas. Titus 1:6 moet dus redelikerwys beteken dat ’n man se minderjarige kinders gedoop moet wees of dat hulle Bybelwaarheid moet leer, aanvaar en toepas en hulle vir doop moet bekwaam, terwyl hulle onder gesinsverdienste staan (1 Korinthiërs 7:14). ’n Ouere man moet daarna streef om dissipels van sy kinders te maak sodat hulle nie “beskuldig word van losbandigheid of tugteloos is nie”.b
Ons kan dit beter verstaan deur op te let hoe die Bybel die uitdrukking “gelowige” gebruik. ’n Persoon kan natuurlik in talle dinge geloof hê, of glo (Handelinge 26:27, 28; 2 Thessalonicense 2:3, 11; Jakobus 2:19). Maar ons vind dat “glo” oor die algemeen die meeste verbind word met die aanvaarding van die Christelike geloof en doop. (Handelinge 8:13; 18:8; vergelyk 19:1-5.) Doop openbaar in die besonder dat ’n persoon ’n gelowige is.—Handelinge 2:41, 44; 4:4, 32.
Sommige jong kinders van ’n ouere man is dalk nog nie liggaamlik, emosioneel of geestelik gereed vir doop nie. Nogtans beskryf Titus 1:6 hulle as “gelowige kinders” as hulle hul, ooreenkomstig hulle ouderdom en situasie, vir doop bekwaam.
[Voetnote]
a As iemand in daardie situasie onbewus is van hierdie gewysigde beskouing, sal dit ’n weldaad wees om sy aandag op hierdie Wagtoring-artikels te vestig.
b Kyk ook Die Wagtoring van 15 Mei 1972, bladsy 240.