Dit het hom gehelp om die werk te kry
’n Jong man wat tydskrifte aanvaar het wat deur die Wagtoringgenootskap gepubliseer is, het verduidelik waarom hy hulle nie van die hand kon wys nie. “’n Paar jaar gelede het ek in Florence, Italië, toetse afgelê om ’n werk te kry”, het hy gesê. “Die dag voor een toets is ek meegedeel dat ons ’n opstel oor die besoedelingsprobleem sou moes skryf.”
Die man het gesê dat sy hospita hom daardie aand ’n paar tydskrifte gegee het, onder meer ’n “Ontwaak!” Hy vertel wat gebeur het toe hy gesien het dat die “Ontwaak!” die besoedelingsprobleem bespreek: “My moegheid het dadelik verdwyn en ek het daardie artikels gelees totdat ek hulle uit die hoof geken het. Die volgende dag het ek die eksamen afgelê en my opstel geskryf. Die raad van eksaminatore, wat uit hooggeplaaste leëroffisiere en universiteitslektore bestaan het, het dit ontleed en my toe gelukgewens met my kennis op hierdie gebied. Ek het in werklikheid net die feite neergeskryf wat ek in die tydskrif gelees het—danksy “Ontwaak!” het ek die werk gekry.”
“Ontwaak!” is vir die voorligting van die hele gesin. Dit toon hoe om vandag se probleme die hoof te bied. Dit lewer verslag oor die nuus, vertel van mense in baie lande en ondersoek godsdiens en die wetenskap. Maar dit doen meer. Dit delf dieper as die oppervlak en wys op die ware betekenis van aktuele gebeure. Jy kan ook baat vind by hierdie tydskrif wat in 51 tale gepubliseer en deur miljoene mense gelees word.