Ons erfenis—Siekte
DIE jong egpaar was so opgewonde! Dit was mooi om te sien met hoeveel vreugde hulle die geboorte van hulle eerste kind afgewag het. Toe is die baba gebore, ’n dogtertjie. Maar sy was erg vertraag. Sy sou nooit ’n normale lewe kon lei nie. Slegs ’n ander ouer kon hulle skok en smart begryp.
Hy is ’n hoërskoolleerling wat sy onderwysers se respek geniet en onder die kinders gewild is. Almal het ’n rooskleurige en suksesvolle toekoms vir hom voorspel. Gedurende sy matriekjaar het hy pyne in sy bene begin kry. ’n Ondersoek het getoon dat hy verspreide sklerose het. “Waarom ek?” vra hy. “Waarom nou?”
Ly jy soos hierdie vrou aan hoofpyn? Of is jy onder die mag der menigte wat maagkwale, spierpyne, hewige rugpyne, kwaai hartkloppings, senuspanning, jig of iets anders het? Sulke probleme is selde noodlottig, maar hulle bederf ’n mens se lewensvreugde. En hulle maak die lewe party dae amper ondraaglik.
Bestaan daar enige hoop dat sulke tonele eendag tot die verlede sal behoort? Sal die dag aanbreek wanneer die mens nie meer weens sy ou vyande, siekte en die dood, sal ly nie? Of is dit ’n permanente deel van die menslike ervaring?