’n dag wat goed bestee is
JEHOVAH GOD seën die opregte pogings van sy dienaars. Dit blyk uit die ondervinding van ’n Christin in Amsterdam. Weens die teenstand van haar afgetrede man wat so te sê altyd tuis is, het sy selde die geleentheid om saam met groepe van Jehovah se Getuies die Koninkryksboodskap van huis tot huis te verkondig.
Eendag het hierdie vrou se man egter besluit om te gaan visvang. Dit was die eerste keer in jare dat hy ’n hele dag van die huis af weg sou wees. Sy wou die dag gebruik om inkopies te doen of om op die strand te ontspan. Maar sy het tot Jehovah gebid en toe die geleentheid aangegryp om aan die predikingswerk deel te neem.
By een deur het hierdie vrou daardie dag ’n boekie gelaat by ’n man wat nog nie ten volle geklee was nie. Toe sy na die volgende deur loop, het hy gesê: “O, ek is so jammer dat jy gaan. Ek het gedink dat jy die boekie met my wil bespreek.” Sy het dus gereël om na ’n paar minute terug te kom wanneer die man klaar aangetrek het. Hy het groot belangstelling in Bybelwaarheid getoon, maar hy het verduidelik dat sy “vrou” en kinders hom verlaat het. Uit medelye het die Getuie die vrou besoek wat haar meegedeel het dat die man te veel gedrink het en dat hy dan gewelddadig geword het en haar en die kinders geslaan het.
Aanvanklik is daar afsonderlike Bybelstudies met hierdie man en die vrou gehou. Later is hulle verenig en het hulle Christenvergaderinge begin bywoon, en kort daarna is hulle wettig getroud. Hulle het albei opgehou om te rook en maak goeie geestelike vordering. Dit is dus met goeie rede dat hierdie getuie van Jehovah so dankbaar is dat God daardie dag wat goed in sy diens bestee is so ryklik geseën het.