Onverwagte hulp
’N GETUIE van Jehovah in Newfoundland het sy werk as ’n konstruksiewerker verloor. Daarbenewens het sy kinders, onderskeidelik vier en ses jaar oud, spesiale mediese behandeling nodig gehad omdat hulle aan sistifibrose gely het. Die gesin wou egter baie graag ’n Christelike byeenkoms in Montreal, Quebec, Kanada, bywoon.
AANGESIEN dit gelyk het asof dit vir die gesin onmoontlik sou wees om die byeenkoms by te woon, het die vader begin om ander te help om dit by te woon. Maar hulle begeerte om teenwoordig te wees, het nooit afgeneem nie.
OMTRENT ’n week voor die byeenkoms het hierdie Getuie gewonder: “Ek wonder of ek genoeg salm sal kan vang om vir die reis te betaal?” Die kanse hiervoor was maar skraal aangesien baie min salm ooit in daardie gebied gevang is. Een salm in twee of drie weke was gewoonlik die meeste. Daarbenewens het die Getuie nie ’n lisensie gehad om vis te vang nie.
DIE GETUIE het nietemin ’n lisensie uitgeneem om vis te vang en daarna sy net aangebring. Verbasend genoeg het hy in ’n paar dae 22 groot salms gevang. Een van hierdie visse was so groot dat hy dit vir R23 verkoop het.
ANDER probleme is ook opgelos en die gesin kon die byeenkoms bywoon. ’n Mens wonder of die Getuie gedink het aan die groot vangs waaroor Jesus Christus een slag toesig gehou het (Luk. 5:4-9). Hierdie Christen was nietemin daarvan oortuig dat God sy pogings geseën het.
BEPLAN jy om die komende “Goddelike Liefde”-Streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies by te woon? Is daar probleme wat jou verhinder? Wend jou dus gerus tot Jehovah God om hulp. Sy hand is nie kort nie, en jy sal dalk onverwagte hulp ontvang wat jou in staat sal stel om daardie geestelik lonende Christelike byeenkoms by te woon.—Jes. 59:1.