Onthou jy?
Het jy onlangse uitgawes van “Die Wagtoring” aandagtig gelees? Dan sal jy ongetwyfeld hierdie punte onthou:
• Wat verklaar die merkwaardige vriendskap wat tussen Jonatan en Dawid bestaan het?
Alhoewel Jonatan die regmatige erfgenaam van die troon was, het hy Dawid as Jehovah se keuse vir die koningskap aanvaar en hom weens sy goeie eienskappe liefgehad.—1/2 ble. 9-11.
• Op watter grondslag kan mense van alle nasionaliteite geestelike Israeliete word?
Op die grondslag van Jesus se “losprys”, wat dit vir hulle moontlik gemaak het om in die nuwe verbond opgeneem te word, waarvan Jesus Christus die middelaar is (1 Tim. 2:5, 6).—1/2 bl. 26.
• Hoe kan ’n persoon vrede met God verkry?
Hy moet erken dat hy ’n sondaar is en dat hy geen krag in homself het om die Skepper te behaag nie. Om vergifnis vir sondes te verkry, moet hy dan berou toon en die soenoffer van Jesus Christus aanvaar. Daarna moet hy voortgaan om te wandel ooreenkomstig die reiniging wat hy deur Christus se offer ontvang het.—15/2 ble. 7, 8.
• Wat vereis Jehovah God van diegene wat ewige lewe gaan ontvang?
Hy vereis dat ons ware geloof moet toon in die feit dat Jesus Christus die volle straf vir sonde op hom geneem het en nou “Here en Christus”, die beloofde Messiaanse Koning, is (Hand. 2:36). Sulke geloof word getoon deur die “goeie nuus” met ander te deel, goeie gedrag te handhaaf en bereidwilligheid om in die behoeftes van ons medemens te voorsien.—1/3 ble. 9, 10.
• Wat kan ons doen om bedroefde medegelowiges te help?
Ons kan na hulle luister en toon dat ons vir hulle omgee. ’n Telefoonoproep, ’n besoek of ’n uitnodiging na ’n maaltyd kan bemoedigend wees. Geleenthede kan geskep word om vertroostende gedagtes uit die Skrif te bespreek. Ons kan moontlik van ons tyd gee om hulle met noodsaaklike dinge te help terwyl hulle amptelike of finansiële formaliteite afhandel. Die omstandighede is miskien sodanig dat hulle finansiële hulp nodig het.—15/3 ble. 25-27.
• Waarom kon Johannes die Doper uitroep: “Die koninkryk van die hemele het naby gekom”?—Matt. 3:2.
Omdat Jesus Christus, die aangewese Koning, op die toneel verskyn het.—1/4 bl. 12.
• Wat het met Ebed-Meleg gebeur omdat hy Jehovah se profeet Jeremia gehelp het, en watter bemoediging kan ons hieruit put?
Ebed-Meleg is sy “siel as ’n buit” beloof (Jer. 39:18). Dit het beteken dat sy siel of lewe nie aan die Babiloniese veroweraars van Jerusalem ten prooi sou wees nie. Net soos ’n persoon wat hom oor buit verheug, kon hy kom verheug oor die behoud van sy lewe. ’n “Groot menigte” sal eweneens bewaar word tydens die naderende “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” (Openb. 7:9-15; 16:14).—15/4 ble. 27-29.
• Wat is afgebeeld deur die garsgerf wat op 16 Nisan beweeg is?
Dit het die opstanding van Jesus Christus afgebeeld, want “Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het” (1 Kor. 15:20).—1/5 bl. 9.
• Wanneer het die teenbeeldige huttefees begin en wanneer gaan dit eindig?
Hierdie teenbeeldige fees het begin toe die Christengemeente op Pinkster van 33 G.J. in aansyn gekom het. Die vreugde van die gemeente het egter nie voortgeduur nie, want ’n afval het plaasgevind. In hedendaagse tye het Jehovah se Getuies sedert 1919 G.J. ’n tydperk van groot vreugde binnegegaan en aldus die teenbeeldige huttefees hervat. Die teenbeeldige fees eindig eers wanneer Christus se duisendjarige bewind voltooi is.—1/5 bl. 22