Psalms
Ons voortbestaan hang van God af
VERGELEKE met die wêreld se bevolking was God se volk nog altyd min. Hulle is nietemin keer op keer met intense vyandigheid behandel. Sonder God se beskerming sou hulle dus nooit voortbestaan het nie.
Die psalmis Dawid was oortuig hiervan. In een van sy psalms het hy gesê: “As die HERE nie vir ons was nie—laat Israel dit sê—as die HERE nie vir ons was toe die mense teen ons opgestaan het nie, dan het hulle ons lewendig verslind toe hulle toorn teen ons ontvlam het; dan het die waters ons oorstroom, ’n stroom het oor ons siel gegaan; dan het die trotse waters oor ons siel gegaan” (Ps. 124:1-5). Indien Jehovah nie sy volk te hulp gesnel het nie, sou die vernietiging wat hulle vyande oor hulle gebring het, gewees het asof die grond tydens ’n aardbewing oopgeskeur en almal in die betrokke gebied lewendig ingesluk het. Dit sou ook ooreengekom het met die uitwerking van ’n geweldige oorstroming wat alles in sy pad wegvee. Die trotse, aanstormende golwe sou die Israeliete heeltemal verswelg het.
In die lig van die gevaar was daar beslis goeie rede om die Allerhoogste vir sy hulp te bedank. Gepas het die psalmis voortgegaan met ’n betuiging van dankbaarheid namens Israel: “Geloofd sy die HERE wat ons aan hulle tande nie as buit oorgegee het nie! Ons siel het vrygeraak soos ’n voël uit die vangnet van die voëlvangers; die vangnet is gebreek, en ons, ons het vrygeraak. Ons hulp is in die Naam van die HERE wat hemel en aarde gemaak het.”—Ps. 124:6-8.
Net soos ’n roofdier wou die vyand die Israeliete verslind. Maar Jehovah het nie toegelaat dat dit gebeur nie. Die Israeliete was soos ’n voël wat in ’n strik gevang is. Toe, skielik, het Jehovah hulle bevry. God se volk het waarlik goeie rede gehad om hulp in die naam van Jehovah te soek, dit wil sê, by die persoon wat deur daardie naam verteenwoordig word. Hierdie Een sal nooit sy volk in die steek laat nie, want hy is die almagtige Skepper.
Wanneer God se knegte vandag met groot moeilikhede te kampe het, kan hulle troos put uit die woorde van hierdie psalm. Dit lyk dalk asof hulle almal van die aarde af sal vergaan. Maar Jehovah God sal nooit toelaat dat die vyand sy volk uitwis nie. Verlossing is seker.
“Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie.”—Rom. 10:11, NAB.