Psalms
Waar is jou oë?
GOD se knegte het dikwels met probleme en beproewings te kampe. Op sulke tye het ’n mens die hulp van die Allerhoogste nodig. Smeek jy Jehovah God dan ernstig om hulp en wend jy jou tot hom vir leiding?
Dit is die bemoediging wat ons uit Psalm 123 kan put. Ons lees: “Ek slaan my oë op tot U wat in die hemel troon” (Ps. 123:1). Aangesien die almagtige God in die hoogste hemele woon, is dit slegs natuurlik vir die psalmis om te sê dat hy sy oë opslaan wanneer hy die Skepper om genade vra. Ter toeligting van die rede waarom hy hom tot Jehovah wend, sê hy voorts: “Kyk, soos die oë van die knegte is op die hand van hulle heer, soos die oë van die diensmaagd is op die hand van haar meesteres—so is ons oë op die HERE onse God, totdat Hy ons genadig is. Wees ons genadig, o HERE, wees ons genadig, want meer as versadig is ons van veragting; meer as versadig is ons siel van die spot van die oormoediges, van die veragting van die trotsaards!”—Ps. 123:2-4.
Knegte en diensmaagde hou die hande van hulle here en meesteresse noukeurig dop om vas te stel wat hulle wens of wil presies is. Die hande van here en meesteresse kan ook lewensbenodigdhede en beskerming aan die knegte gee. Net so wend God se knegte hulle tot hom, want hulle wil weet wat sy wil in sake is en omdat hulle sy beskerming, guns en seën wil hê.
Die psalmis en sy mede-Israeliete is bespot. Weens die vernedering waarmee hulle vyande op hulle neergesien het, was dit uiters gepas dat hulle Jehovah smeek om hulle genadig te wees. Die veragting wat hulle moes verduur, is nie nou en dan betoon nie, maar was die reël. Dit was oorvloedig. Die “trotsaards” wat daarvoor verantwoordelik was, was ‘oormoedig’, dit wil sê, hulle was oënskynlik veilig.
Sulke omstandighede het bestaan toe die mure van Jerusalem onder toesig van Nehemia herbou is. Die Bybel berig die volgende oor die dinge wat hulle vyande gesê het: “Toe Sanballat hoor dat ons die muur bou, het hy kwaad geword en hom baie geërg, en hy het met die Jode gespot en voor sy broers en die leër van Samaria gespreek en gesê: Wat maak die magtelose Jode? Sal ’n mens hulle laat begaan? Sal hulle offer? Sal hulle dit vandag nog voltooi? Sal hulle die klippe uit die grondhope lewendig maak, al is dit deur brand verniel? En Tobia, die Ammoniet, het langs hom gestaan en gesê: Wat hulle ook al bou—as ’n jakkals daarteen opspring, sal hy hulle klipmuur omgooi!”—Neh. 4:1-3.
Dit is opmerkenswaardig dat die mure van Jerusalem herbou is ondanks intense teenstand en spot deur die vyand. Die vernaamste rede hiervoor was dat Nehemia en sy medewerkers op Jehovah staat gemaak het vir hulp (Neh. 4:4, 5). Indien ons ons eweneens tot Jehovah wend vir sy guns en seën, sal ons nooit teleurgestel word nie. Hy sal ons versoeke toestaan.—1 Joh. 3:21, 22.