Soos geneeshere wat nie hulle werk doen nie
IN DIE dae van die profeet Jeremia was daar ’n sedelike verval onder die bewoners van Jerusalem en die land Juda. Die priesters en valse profete het net die probleem vererger. Die woord van Jehovah deur Jeremia het gesê: “Van hul kleinste tot hul grootste maak hulle almal onregverdige wins, en van die profeet tot die priester pleeg hulle almal bedrog. En hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier deur te sê: Vrede, vrede!—terwyl daar geen vrede is nie.”—Jer. 6:13, 14.
Verdorwenheid het oral voorgekom—van die kleinste tot die grootste. Die mense was besorg oor hul eie sake, nie dié van ander nie. Hulle het gedoen wat vir hulle die winsgewendste was. Diegene wie se plig dit was om die volk te leer was oneerlik. Net soos geneeshere wat nie ’n deeglike ondersoek uitvoer nie en dan die verkeerde medisyne voorskryf, het die priesters en die valse profete die verbreking van die Israeliete as iets onbenulligs beskou. Hulle het gesê dat alles goed gaan of dat daar vrede is terwyl die nasie in werklikheid geestelik ernstig siek was. Hulle het dus probeer om ‘die verbreking van die Israeliete op die maklikste manier te genees’.