LES 37
Jehovah praat met Samuel
Die hoëpriester Eli het twee seuns gehad wat as priesters by die tabernakel gedien het. Hulle name was Hofni en Pinehas. Hulle was nie gehoorsaam aan Jehovah se wette nie, en hulle het die volk baie sleg behandel. Wanneer die Israeliete offerandes aan Jehovah gebring het, het Hofni en Pinehas die beste vleis vir hulleself gevat. Eli het gehoor wat sy seuns gedoen het, maar hy het niks hieroor gedoen nie. Sou Jehovah toelaat dat dit aanhou gebeur?
Al was Samuel baie jonger as Hofni en Pinehas, het hy nie gedoen wat hulle gedoen het nie. Samuel het Jehovah se hart bly gemaak. Een nag, terwyl hy geslaap het, het Samuel gehoor hoe ’n stem sy naam roep. Hy het opgestaan en na Eli toe gehardloop en gesê: ‘Hier is ek!’ Maar Eli het gesê: ‘Ek het jou nie geroep nie. Gaan lê weer.’ Samuel het gaan lê, maar toe het dit weer gebeur. Toe Samuel die stem ’n derde keer hoor, het Eli besef dat dit Jehovah is wat Samuel roep. Hy het vir Samuel gesê wat hy moet sê as hy die stem weer hoor. Hy moes sê: ‘Praat, Jehovah. U kneg luister.’
Samuel het weer gaan lê. Toe hoor hy: ‘Samuel! Samuel!’ Hy het geantwoord: ‘Praat asseblief, want u kneg luister.’ Jehovah het vir hom gesê: ‘Sê vir Eli dat ek hom en sy gesin gaan straf. Hy weet dat sy seuns slegte dinge in my tabernakel doen, maar hy doen niks daaroor nie.’ Die volgende oggend het Samuel soos gewoonlik die deure van die tabernakel oopgemaak. Hy was bang om vir die hoëpriester te sê wat Jehovah gesê het. Maar Eli het hom geroep en vir hom gesê: ‘My seun, wat het Jehovah vir jou gesê? Vertel my alles.’ Toe het Samuel Eli alles vertel.
Terwyl Samuel grootgeword het, was Jehovah altyd met hom. Al die Israeliete in die land het geweet dat Jehovah Samuel gekies het om ’n profeet en ’n regter te wees.
“Dink aan jou Groot Skepper terwyl jy jonk is.” – Prediker 12:1