Links: ’n Broer word in hegtenis geneem omdat hy gepreek het in Eindhoven, Nederland, 1945; regs: Beskerm die wet in die land waar jy woon, die reg om te preek?
DEEL 4
Koninkryksoorwinnings—Die wetlike bevestiging van die goeie nuus
TERWYL jy van huis tot huis preek, hoor jy ’n sirene in die verte. Dit raak al hoe harder. Wanneer jy met die volgende huisbewoner begin praat, word jou velddiensmaat se aandag afgetrek deur ’n polisiemotor wat voor die huis stilhou. ’n Polisieman klim uit en vra: “Is dit julle twee wat van deur tot deur gaan en oor die Bybel praat? Ons het klagtes ontvang!” Julle antwoord respekvol en identifiseer julle as Jehovah se Getuies. Wat sal nou gebeur?
Dit sal grootliks afhang van die geskiedenis. Hoe het die regering van die land waar jy woon, Jehovah se Getuies deur die jare heen behandel? Is daar ’n mate van godsdiensvryheid? Indien wel, is dit waarskynlik grootliks te danke aan jou geestelike broers en susters se harde werk oor die dekades heen in “die verdediging en wetlike bevestiging van die goeie nuus” (Fil. 1:7). Ongeag waar jy woon, dit kan baie geloofversterkend wees om na te dink oor die regsoorwinnings van Jehovah se Getuies. In hierdie deel sal ons ’n paar van hierdie merkwaardige oorwinnings ondersoek. Ons oorwinnings voorsien opwindende bewyse dat die Koninkryk ’n werklikheid is, want ons sou nooit soveel op ons eie kon bereik het nie!