Links: ’n Kolporteursuster preek in Korea, 1931; regs: Getuieniswerk in gebaretaal in Korea in ons dag
DEEL 2
Die Koninkrykspredikingswerk—Die verspreiding van die goeie nuus regoor die wêreld
OP ’N dag dat jy nie hoef werk toe te gaan nie, maak jy vroeg gereed vir die bediening. Jy huiwer ’n oomblik, want jy is ’n bietjie moeg. Dit sal so lekker wees om die oggend te rus! Maar jy bid daaroor en besluit om uit te gaan. Jy werk saam met ’n getroue bejaarde suster, en haar volharding en liefde raak jou hart. En terwyl jy die boodskap van die waarheid van huis tot huis verkondig, kom die gedagte by jou op dat jou broers en susters regoor die wêreld dieselfde boodskap verkondig, dieselfde lektuur gebruik en by dieselfde opleiding baat vind. Teen die tyd dat jy by die huis kom, voel jy versterk. Jy is baie bly dat jy wel uitgegaan het!
Die Christelike bediening is tans die vernaamste werk van God se Koninkryk. Jesus het voorspel dat die predikingswerk gedurende die laaste dae op ’n verstommende skaal gedoen sou word (Matt. 24:14). Hoe is hierdie profesie vervul? In hierdie deel sal ons die mense, die metodes en die hulpmiddele bespreek wat so ’n belangrike rol gespeel het in die Christelike bediening, wat miljoene regoor die wêreld help om God se Koninkryk as ’n werklikheid te sien.