Links: ’n Suster in Alabama, VSA, speel ’n opname van ’n toespraak deur broer Rutherford, laat 1930’s; regs: Switserland
DEEL 1
Koninkrykswaarheid—Die voorsiening van geestelike voedsel
JY SIEN die blydskap in jou Bybelstudent se oë wanneer hy die betekenis verstaan van ’n teks wat julle so pas saam gelees het. Hy sê stadig: “Bedoel jy dat die Bybel leer dat ons vir ewig in die Paradys kan lewe—hier op die aarde?” Jou velddiensmaat glimlag en sê: “Wel, wat het jy in die Bybel gesien?” Verbaas skud die student sy kop en sê: “Ek kan nie glo dat ek dit nog nooit geleer is nie!” Jy onthou dat hy net ’n paar weke vroeër iets soortgelyks gesê het toe hy uitgevind het dat God se naam Jehovah is.
Het jy al so ’n ondervinding gehad? Baie van God se knegte het. Min dinge herinner ons so duidelik aan die kosbare gawe wat ons ontvang het—kennis van die waarheid! Dink ’n bietjie: Hoe het hierdie gawe jou bereik? In hierdie gedeelte sal ons dié vraag ondersoek. Die manier waarop God se volk progressief geestelike verligting ontvang het, is ’n duidelike bewys dat God se Koninkryk ’n werklikheid is. Die Koning daarvan, Jesus Christus, maak al ’n eeu lank seker dat God se volk die waarheid geleer word.