Rolmodel—Timoteus
Timoteus staan op die punt om die huis te verlaat—nie om van sy gesin af weg te hardloop nie, maar om saam met die apostel Paulus sendingwerk te gaan doen! Timoteus, wat moontlik in sy laat tienerjare is, is al ’n verantwoordelike jong man wat “gunstig vermeld [is] deur die broers in Listra en Ikonium” (Handelinge 16:2). Paulus is vol vertroue dat Timoteus groot dinge kan bereik in God se diens. En dit is wat hy doen! In die daaropvolgende jare reis Timoteus baie en stig hy gemeentes en bou hy die broederskap op. Timoteus se uitstekende eienskappe maak hom geliefd by Paulus, wat sowat 11 jaar later vir die Filippense sê: “Ek het niemand anders met ’n gesindheid soos syne wat opreg na die dinge in verband met julle sal omsien nie.”—Filippense 2:20.
Stel jy jou beskikbaar om in God se diens gebruik te word? As jy dit doen, wag daar groot seëninge op jou! Jongmense wat “hulle gewillig aanbied”, is werklik vir Jehovah kosbaar (Psalm 110:3). En boonop kan jy seker wees dat Jehovah God “nie onregverdig [is] sodat hy [jou] werk sal vergeet” nie.—Hebreërs 6:10.