Rolmodel—Die drie Hebreërs
Hananja, Misael en Asarja staan op die vlakte Dura, naby Babilon. Oral om hulle buig mense voor ’n reusagtige beeld neer. Ten spyte van druk deur hulle portuurs en dreigemente van die koning, bly hierdie jong manne standvastig. Hulle sê respekvol maar ferm vir Nebukadnesar dat hulle besluit om Jehovah te dien, nie onderhandelbaar is nie.—Daniël 1:6; 3:17, 18.
Hierdie manne was jonk toe hulle in ballingskap na Babilon geneem is. Hulle getrouheid terwyl hulle jonk was—hulle het geweier om kos te eet wat deur God se Wet verbied is—het hulle toegerus om later in hulle lewe moeilike uitdagings die hoof te bied (Daniël 1:6-20). Hulle het uit ondervinding geweet dat dit verstandig is om aan Jehovah gehoorsaam te wees. Is jy net so vasbeslote om by God se standaarde te bly ten spyte van druk deur jou portuurs? As jy, terwyl jy jonk is, leer om in wat na klein dingetjies lyk aan Jehovah gehoorsaam te wees, sal jy beter toegerus wees om getrou te bly wanneer jy later in jou lewe voor groot uitdagings te staan kom.—Spreuke 3:5, 6; Lukas 16:10.