Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • be studie 17 bl. 139-bl. 142 par. 1
  • Gebruik van mikrofone

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gebruik van mikrofone
  • Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
  • Soortgelyke materiaal
  • Gepaste stemsterkte
    Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
  • Vertaling van die “Wees altyd bly”!-streekbyeenkoms vir 2020
    Hoe jou donasies gebruik word
  • Die Diensvergadering rus ons toe vir elke goeie werk
    Ons Koninkryksbediening—1994
  • Maak vergaderinge leersamer
    Ons Koninkryksbediening—1988
Sien nog
Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
be studie 17 bl. 139-bl. 142 par. 1

STUDIE 17

Gebruik van mikrofone

Wat moet jy doen?

As ’n mikrofoon vir klankversterking by julle vergaderinge gebruik word, moet jy dit reg gebruik.

Waarom is dit belangrik?

Ander sal slegs baat vind by wat gesê word, as hulle dit duidelik kan hoor.

DIT verg baie tyd en moeite van ons Christenbroers en -susters om Christelike vergaderinge by te woon. Om baat te vind by wat gesê word, moet hulle duidelik kan hoor.

In die dae van eertydse Israel was daar geen elektriese klankversterking nie. Hoe het die nasie Israel, wat uit miljoene mense bestaan het, vir Moses gehoor toe hy op die vlaktes van Moab met hulle gepraat het voordat hulle die Beloofde Land binnegegaan het? Moses het moontlik manne binne hoorafstand van mekaar af in die kamp geplaas, en hulle het een na die ander sy woorde herhaal (Deut. 1:1; 31:1). Kort nadat die Israeliete die land wes van die Jordaan begin inneem het, het Josua die nasie voor die berg Gerisim en die berg Ebal bymekaargebring, klaarblyklik met die Leviete in die vallei tussenin. Daar het die hele volk die Goddelike seëninge en vloeke wat vir hulle gelees is, gehoor en daarop geantwoord (Jos. 8:33-35). Dieselfde metode as voorheen is moontlik ook by hierdie geleentheid gebruik, maar die uitstekende akoestiek van die omgewing het ongetwyfeld ook gehelp.

Ongeveer 1 500 jaar later, toe “’n baie groot skare” by die See van Galilea bymekaargekom het om Jesus te hoor, het hy in ’n boot geklim, van die oewer af wegbeweeg en gaan sit om met die skare te praat (Mark. 4:1, 2). Waarom het Jesus van die boot af gepraat? Blykbaar omdat die mensestem besonder goed oor die gladde oppervlak van ’n watermassa dra.

Tot vroeg in die 20ste eeu het die stemsterkte en helderheid van ’n spreker se stem dikwels bepaal hoeveel mense in ’n gehoor hom kon hoor. Maar sedert die 1920’s kon Jehovah se knegte elektriese klankversterking van die mensestem by hulle byeenkomste gebruik.

Klanktoerusting. Hierdie toerusting kan ’n spreker se stem heelwat versterk en nogtans die klankgehalte en toon van sy stem handhaaf. Die spreker hoef nie sy stembande te ooreis nie. Sy gehoor hoef nie te sukkel om te hoor wat gesê word nie. Hulle kan eerder op die boodskap konsentreer.

Baie moeite word gedoen om seker te maak dat goeie klanktoerusting by byeenkomste van Jehovah se Getuies beskikbaar is. Daarbenewens word klanktoerusting by baie Koninkryksale gebruik om die stemme te versterk van diegene wat toesprake hou, vergaderinge lei of van die verhoog af voorlees. En party gemeentes het ook mikrofone wat deur die gehoor gebruik word wanneer hulle tydens vergaderinge kommentaar lewer. As julle gemeente sulke toerusting het, moet jy leer om dit goed te gebruik.

’n Paar eenvoudige riglyne. Hou die volgende punte in gedagte sodat jy die toerusting reg kan gebruik: (1) Gewoonlik moet die mikrofoon ongeveer 10 tot 15 sentimeter van jou mond af wees. As die mikrofoon te naby is, kan dit moeilik wees om uit te maak wat jy sê. As dit te ver is, sal jou stem onduidelik wees. (2) Die mikrofoon moet direk voor jou wees, nie na die kant toe nie. As jy jou kop na regs of na links beweeg, moet jy slegs praat wanneer jou gesig na die mikrofoon wys. (3) Praat ’n bietjie harder en met groter intensiteit as in gewone gesprekke. Maar jy hoef nie te skreeu nie. Die klanktoerusting sal jou stem maklik na almal in die gehoor dra. (4) As jy jou keel moet skoonmaak of wil hoes of nies, moet jy jou kop van die mikrofoon af wegdraai.

Wanneer jy ’n toespraak hou. Wanneer jy agter die rostrum gaan staan, sal ’n broer gewoonlik die posisie van die mikrofoon verstel. Staan op ’n natuurlike manier en kyk na die gehoor terwyl hy dit doen. Sit jou aantekeninge op die rostrum neer en maak seker dat die mikrofoon nie in die pad is nie.

Luister na hoe jou stem oor die luidsprekers klink wanneer jy begin praat. Is jou stem te hard of veroorsaak sekere woorde ’n plofgeluid? Jy sal dalk ’n paar sentimeter terug moet staan. Wanneer jy afkyk na jou aantekeninge, moet jy onthou dat jy slegs moet praat en lees wanneer jou gesig in lyn met die mikrofoon of effens hoër as dit is, nie wanneer dit laer as die mikrofoon is nie.

Wanneer jy van die verhoog af voorlees. Dit is die beste om jou Bybel of ander publikasie hoog genoeg te hou sodat jou gesig na die gehoor toe wys. Aangesien die mikrofoon waarskynlik reg voor jou sal wees, sal jy dalk jou leesmateriaal effens na een kant toe moet hou. Dit beteken dat jy effens meer na die ander kant van die mikrofoon sal moet staan. Wanneer jy lees, sal jou stem dan direk in die mikrofoon ingaan.

Die meeste broers wat by die Wagtoring-studie lees, staan en praat in ’n staanmikrofoon. Hierdie posisie maak dit vir hulle makliker om asem te haal en met groter gevoel te lees. Hou in gedagte dat die voorlesing van die paragrawe ’n belangrike deel van die vergadering is. Die voordeel wat die gehoor daaruit trek, hang grootliks daarvan af of hulle kan hoor hoe die materiaal gelees word.

Wanneer jy by die vergadering kommentaar lewer. As julle gemeente mikrofone vir gehoordeelname gebruik, moet jy onthou dat jy nog steeds duidelik en hard genoeg moet praat. Wanneer jy kommentaar lewer, moet jy jou studiepublikasie of jou Bybel in jou hand probeer hou. Dan sal jy die materiaal duidelik kan sien terwyl jy in die mikrofoon praat.

In party gemeentes het broers die taak om mikrofone na diegene te neem wat kommentaar lewer. As dit die geval is in julle gemeente, moet jy jou hand ophou wanneer jy gevra word sodat die broer wat die mikrofoon dra, kan sien waar jy sit en vinnig by jou kan uitkom. As julle handmikrofone gebruik, moet jy gereed wees om dit te neem. Moenie begin praat voordat die mikrofoon in posisie is nie. Wanneer jy klaar gepraat het, moet jy die mikrofoon onmiddellik aan die broer teruggee.

Wanneer jy aan ’n demonstrasie deelneem. Om ’n mikrofoon tydens ’n demonstrasie te gebruik, vereis voorbereiding. As die mikrofoon op ’n staander gemonteer is, sal jy al twee jou hande kan gebruik om jou Bybel en aantekeninge te hanteer. As jy ’n handmikrofoon gebruik, sal dit jou moontlik groter bewegingsvryheid gee, maar die ander persoon sal dalk die mikrofoon moet vashou. Sodoende sal jou hande vry wees om jou Bybel te gebruik. Jy en jou huisbewoner moet dit oefen sodat hy of sy weet hoe om dit reg te hou. Onthou ook dat jy nie met jou rug na die gehoor toe moet staan wanneer jy op die verhoog is nie, veral nie wanneer jy praat nie.

Demonstrasies tydens die Diensvergadering het soms ’n hele paar deelnemers, en hulle beweeg dalk rond op die verhoog. Gevolglik is ’n paar mikrofone dalk nodig. Dit moet vooraf op die regte plekke gesit word of aan die deelnemers gegee word wanneer hulle na die verhoog gaan. Vooruitbeplanning is nodig om seker te maak dat die mikrofone op die regte plek op die regte tyd is. As demonstrasies voor die tyd geoefen word, kan deelnemers gewys word hoe om die mikrofone goed te gebruik. Wanneer ’n demonstrasie nie op die verhoog geoefen kan word nie, sal dit dalk goed wees as deelnemers ’n klein voorwerp gebruik wat ongeveer so groot soos ’n mikrofoon is, sodat hulle kan oefen om dit in die regte posisie te hou. Ná die demonstrasie moet deelnemers handmikrofone saggies neersit en versigtig wees om nie oor die drade van ander mikrofone te struikel wanneer hulle die verhoog verlaat nie.

Om aandag te gee aan ons gebruik van mikrofone, hou direk verband met een van die hoofoogmerke van ons vergaderinge, naamlik om mekaar deur ons bespreking van God se Woord op te bou (Heb. 10:24, 25). As ons leer om mikrofone doeltreffend te gebruik, kan ons persoonlik daartoe bydra om hierdie belangrike oogmerk te bereik.

HOE OM DIT TE DOEN

  • Hou die mikrofoon 10 tot 15 sentimeter van jou mond af.

  • Sorg dat jy slegs praat wanneer jou mond in lyn met die mikrofoon is.

  • Praat ’n bietjie harder en met groter intensiteit as in gewone gesprekke.

  • Draai jou kop weg van die mikrofoon as jy jou keel moet skoonmaak.

OEFENING: As mikrofone in julle Koninkryksaal gebruik word, moet jy goed oplet hoe ervare sprekers gemonteerde en handmikrofone gebruik. Let op dinge wat jy wil toepas of wil vermy, en ook die redes vir jou gevolgtrekkings.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel