Hoofstuk 121
Voor die Sanhedrin, dan na Pilatus
DIE nag is amper om. Petrus het Jesus vir die derde keer verloën, en die lede van die Sanhedrin is klaar met hulle skynverhoor en het uiteengegaan. Maar met dagbreek Vrydagoggend vergader hulle weer, hierdie keer in hulle Sanhedrinsaal. Hulle doel is waarskynlik om ’n skyn van wettigheid aan die nagverhoor te verleen. Wanneer Jesus voor hulle gebring word, sê hulle, soos gedurende die nag: “As U die Christus is, sê vir ons.”
“As Ek vir u sê, sal u tog nie glo nie”, antwoord Jesus. “En as Ek vra, sal u My tog nie antwoord . . . nie.” Maar Jesus verwys moedig na sy identiteit en sê: “Van nou af sal die Seun van die mens sit aan die regterhand van die krag van God.”
“Is U dan die Seun van God?” wil hulle almal weet.
“U sê dat Ek dit is”, antwoord Jesus.
Vir hierdie moordlustige manne is hierdie antwoord voldoende. Hulle beskou dit as godslastering. “Wat het ons nog getuienis nodig!” vra hulle. “Want ons het dit self uit sy mond gehoor.” Toe boei hulle Jesus, lei hom weg en lewer hom oor aan die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus.
Judas, Jesus se verraaier, het die gebeure dopgehou. Toe hy sien dat Jesus veroordeel is, kry hy spyt. Hy gaan derhalwe na die owerpriesters en die ouderlinge om die 30 silwerstukke terug te gee, en verduidelik: “Ek het gesondig deur onskuldige bloed te verraai.”
“Wat gaan dit ons aan? Jy kan toesien!” is hulle gevoellose antwoord. Gevolglik gooi Judas die silwerstukke in die tempel neer en gaan weg en probeer homself ophang. Maar die tak waaraan Judas die tou vasbind, breek blyk-baar en sy liggaam stort op die rotse onder neer, waar dit oopbars.
Die owerpriesters weet nie wat om met die silwerstukke te doen nie. “Dit is nie geoorloof om dit in die skatkis te stort nie”, besluit hulle, “omdat dit bloedgeld is.” Nadat hulle saam raad gehou het, koop hulle dus die pottebakker se grond met die geld as ’n begraafplaas vir vreemdelinge. Daarom word die grond “Bloedgrond” genoem.
Dit is nog vroeg in die oggend wanneer Jesus na die goewerneur se paleis geneem word. Maar die Jode wat hom vergesel het, weier om in te gaan omdat hulle glo dat sulke intimiteit met nie-Jode hulle sal verontreinig. Pilatus kom hulle derhalwe tegemoet en kom uit. “Watter beskuldiging bring julle teen hierdie man in?” vra hy.
“As Hy geen kwaaddoener was nie, sou ons Hom nie aan u oorgelewer het nie”, antwoord hulle.
Omdat hy nie by die saak betrokke wil raak nie, antwoord Pilatus: “Neem julle Hom en oordeel Hom volgens julle wet.”
Die Jode verraai hulle moorddadige oogmerk wanneer hulle beweer: “Dit is ons nie geoorloof om iemand dood te maak nie.” Trouens, dit sal heel moontlik ’n openbare opstand veroorsaak as hulle Jesus gedurende die Pasgafees doodmaak, aangesien baie mense Jesus hoogag. Maar as hulle die Romeine sover kan kry om hom op ’n politieke aanklag tereg te stel, sal dit hulle nie voor die mense aanspreeklik laat lyk nie.
Die godsdiensleiers maak nie melding van hulle vroeëre verhoor waartydens hulle Jesus vir godslastering veroordeel het nie maar versin nou ander aanklagte. Hulle maak die drievoudige beskuldiging: “Ons het gevind dat hierdie man [1] die volk verlei en [2] verbied om aan die keiser belasting te betaal, terwyl Hy [3] sê dat Hy self Christus, die Koning, is.”
Die aanklag dat Jesus beweer dat hy ’n koning is, verontrus Pilatus. Hy gaan dus weer in die paleis in, roep Jesus na hom en vra: “Is U die Koning van die Jode?” Met ander woorde, het jy die wet oortree deur jou in verset teen die keiser ’n koning te verklaar?
Jesus wil weet hoeveel Pilatus reeds omtrent hom gehoor het en daarom vra hy: “Sê u dit uit uself, of het ander u dit van My gesê?”
Pilatus gee te kenne dat hy niks van hom weet nie en dat hy graag die feite wil hê. “Is ek dan ’n Jood?” antwoord hy. “U volk en die owerpriesters het U aan my oorgelewer. Wat het U gedoen?”
Jesus probeer geensins om van die geskil, naamlik koningskap, weg te skram nie. Die antwoord wat Jesus nou gee, verbaas Pilatus ongetwyfeld. Lukas 22:66–23:3; Mattheüs 27:1-11; Markus 15:1; Johannes 18:28-35; Handelinge 1:16-20.
▪ Waarom vergader die Sanhedrin weer die oggend?
▪ Hoe sterf Judas, en wat word met die 30 silwerstukke gedoen?
▪ Pleks van Jesus self dood te maak, waarom wil die Jode hê dat die Romeine hom moet doodmaak?
▪ Watter aanklagte bring die Jode teen Jesus in?