Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • rs bl. 383-387
  • Sonde

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Sonde
  • Redenering uit die Skrif
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat was die eerste sonde?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Jesus red—Hoe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Wanneer daar nie meer sonde is nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Wat was die eerste sonde?
    Ontwaak!—2006
Sien nog
Redenering uit die Skrif
rs bl. 383-387

Sonde

Definisie: Volgens die Hebreeuse en Griekse Bybeltekste beteken dit letterlik ‘te kort skiet’. God self stel die standaard wat sy intelligente skepsele moet bereik. As daar te kort geskiet word, is dit sonde, wat ook ongeregtigheid of wetteloosheid is (Rom. 3:23; 1 Joh. 5:17; 3:4). Sonde is enigiets wat nie in harmonie is met God se persoonlikheid, standaarde, weë en wil nie, alles dinge wat heilig is. Dit kan verkeerde gedrag wees, die versuim om te doen wat gedoen moet word, goddelose woorde, onrein gedagtes, of selfsugtige begeertes of beweegredes. Die Bybel tref ’n onderskeid tussen oorgeërfde sonde en moedswillige sonde, tussen ’n sondige daad waaroor ’n persoon berou het en die beoefening van sonde.

Hoe kon Adam sondig as hy volmaak was?

Dat Adam volmaak was, blyk uit Genesis 1:27, 31 en Deuteronomium 32:4. Wat het Jehovah God bedoel toe hy gesê het dat sy aardse skepping, die man en vrou inkluis, “baie goed” is? Die feit dat Jehovah, wie se werk volkome is, gesê het dat sy skepping “baie goed” is, toon dat dit aan sy volmaakte standaarde voldoen het.

Het volmaaktheid beteken dat dit vir Adam en Eva onmoontlik was om te sondig? Die maker van ’n robot verwag dat dit moet doen presies wat hy dit geprogrammeer het om te doen. Maar ’n volmaakte robot sal nie ’n volmaakte mens wees nie. Die eienskappe wat albei moet hê, is nie dieselfde nie. Adam en Eva was mense, nie robotte nie. God het die mensdom die vermoë gegee om tussen reg en verkeerd, tussen gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid, te kies, om morele besluite te neem. Aangesien dit die manier was waarop mense gemaak is, sou die onvermoë om sulke besluite te neem (en nie ’n onverstandige besluit nie) ’n aanduiding van onvolmaaktheid gewees het.—Vergelyk Deuteronomium 30:19, 20; Josua 24:15.

Het die feit dat Adam en Eva volmaak geskape is, vereis dat al hulle besluite daarna reg moes wees? As dit die geval was, sou dit daarop neerkom dat hulle geen keuse gehad het nie. Maar God het hulle nie so gemaak dat hulle outomaties gehoorsaam sou wees nie. God het hulle die vermoë gegee om te kies sodat hulle gehoorsaam kon wees omdat hulle hom liefhet. Of, as hulle toegelaat het dat hulle harte selfsugtig word, sou hulle ongehoorsaam word. Wat beteken vir jou meer—wanneer iemand vir jou iets doen omdat hy gedwing word om dit te doen of omdat hy dit wil doen?—Vergelyk Deuteronomium 11:1; 1 Johannes 5:3.

Hoe kon sulke volmaakte mense selfsugtig word en sondig? Hoewel hulle volmaak geskape was, sou hulle fisiese liggame nie volmaak funksioneer indien hulle nie gesonde kos geëet het nie. Indien hulle hulle verstand met verkeerde gedagtes gevoed het, sou dit eweneens morele agteruitgang, onheiligheid, veroorsaak het. Jakobus 1:14, 15 verduidelik: “Elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde.” In Eva se geval het die verkeerde begeertes begin posvat toe sy met belangstelling geluister het na Satan wat ’n slang as sy spreekbuis gebruik het. Adam het hom deur sy vrou laat oorreed om ook die verbode vrug te eet. In plaas dat hulle die verkeerde gedagtes verwerp het, het albei selfsugtige begeertes gekoester. Die gevolg was sondige dade.—Gen. 3:1-6.

Was Adam se sonde ’n deel van “God se plan”?

Kyk bladsye 33, 34, onder “Adam en Eva”, asook bladsye 312, 313, onder “Noodlot”.

Is daar deesdae werklik nog iets soos “sonde”?

Ter toeligting: Gestel ’n siek man het die koorspen gebreek. Sou dit bewys dat hy nie koors het nie? Gestel ’n dief het gesê dat hy nie glo wat in die wetboeke geskryf staan nie. Sou dit hom onskuldig aan misdade maak? Die feit dat baie mense nie glo dat dit nodig is om volgens Bybelstandaarde te lewe nie, maak eweneens nie ’n einde aan sonde nie.—Kyk 1 Johannes 1:8.

Sommige mense verkies om dinge te doen wat in God se Woord verbied word. Maar dit bewys nie dat die Bybel verkeerd is nie. Galasiërs 6:7, 8 waarsku: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai.” Die epidemie seksueel oordraagbare siektes, verbroke gesinne, ensovoorts, lewer bewys van die waaragtigheid van wat die Bybel sê. God het die mens gemaak; Hy weet wat aan ons blywende geluk sal verskaf; Hy sê vir ons in die Bybel. Het dit nie sin om na hom te luister nie? (Kyk onder “God” vir bewys van God se bestaan.)

Is baie dinge wat sonde genoem word nie bloot die natuurlike handelwyse vir mense nie?

Is seks sondig? Het Adam en Eva gesondig deur geslagsomgang met mekaar te hê? Dit is nie wat die Bybel sê nie. Genesis 1:28 sê dat God self vir Adam en Eva gesê het: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde.” Dit sou geslagsomgang met mekaar noodsaak, nie waar nie? En Psalm 127:3 sê “seuns is ’n erfdeel van die HERE”, “’n beloning”. Ons moet daarop let dat Eva eerste van die verbode vrug geëet het en dit gedoen het terwyl sy alleen was; sy het eers later vir Adam daarvan gegee (Gen. 3:6). Die boom waaraan die verbode vrug gegroei het, was klaarblyklik ’n letterlike boom. Die Bybel verbied nie normale geslagsomgang tussen man en vrou nie, maar wel gebruike soos hoerery, owerspel, homoseksualiteit en bestialiteit. Die slegte gevolge van sulke gebruike toon dat die verbod ’n blyk van liefdevolle besorgdheid is aan die kant van die Een wat weet hoe ons gemaak is.

Gen. 1:27: “God het die mens [Adam] geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape.” (Dit sou dus vir Adam normaal wees om God se heilige eienskappe te weerspieël, om met waardering op God se leiding te reageer. Indien hy op hierdie gebied te kort sou skiet, sou dit sonde wees. Kyk Romeine 3:23, ook 1 Petrus 1:14-16.)

Ef. 2:1-3: “Julle [Christene] het Hy [God] lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander.” (As afstammelinge van die sondaar Adam is ons in sonde gebore. Van geboorte af neig ons hart tot boosheid. Indien ons nie daardie verkeerde begeertes beteuel nie, kan ons mettertyd aan so ’n lewenswyse gewoond raak. Dit kan selfs “normaal” lyk, omdat ander om ons soortgelyke dinge doen. Maar die Bybel toon wat reg en wat verkeerd is in God se oë, in die lig van hoe hy die mens gemaak het en van sy voorneme met die mensdom. As ons na ons Skepper luister en hom liefdevol gehoorsaam, sal die lewe ’n sinvolheid verkry wat ons nooit tevore geken het nie en sal ons ’n ewige toekoms hê. Ons Skepper nooi ons hartlik om te smaak en te sien hoe goed dit is.—Ps. 34:9.)

Hoe raak sonde ’n mens se verhouding met God?

1 Joh. 3:4, 8: “Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid, want die sonde is wetteloosheid. . . . Hy wat die sonde doen [“wie aanhou sonde doen”, NAV], is uit die duiwel.” (Die Bybel draai nie doekies om nie! Diegene wat moedswillig ’n sondige weg inslaan, wat ’n gewoonte daarvan maak, word deur God as misdadigers beskou. Die weg wat hulle ingeslaan het, is die weg wat Satan self eerste ingeslaan het.)

Rom. 5:8, 10: “Christus [het] vir ons gesterf . . . toe ons nog sondaars was. . . . Terwyl ons nog vyande was, [is ons] met God versoen . . . deur die dood van sy Seun.” (Let daarop dat sondaars vyande van God genoem word. Hoe verstandig is dit dus tog om die voorsiening te benut wat God gemaak het sodat ons met hom versoen kan raak!)

1 Tim. 1:13: “Aan my is barmhartigheid bewys [sê die apostel Paulus], omdat ek dit onwetend gedoen het in ongeloof.” (Maar toe die Here vir hom die regte weg gewys het, het hy nie gehuiwer om daarop te wandel nie.)

2 Kor. 6:1, 2: “As medewerkers vermaan ons julle ook dat julle die genade van God nie tevergeefs mag ontvang nie. Want Hy sê: In die tyd van die welbehae het Ek jou verhoor, en in die dag van heil het Ek jou gehelp. Kyk, nou is dit die tyd van die welbehae; kyk, nou is die dag van heil.” (Die geleentheid om gered te word bestaan nóú. God sal nie vir ewig sulke onverdiende goedheid aan sondige mense bewys nie. Ons moet dus oppas dat ons nie die doel daarvan mis nie.)

Hoe kan ons van ons sondige toestand verlos word?

Kyk onder “Losprys”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel