Mexiko se gebottelde ambassadeur
● Toe die Spaanse veroweraars vroeg in die 16de eeu in Mexiko aangekom het, het hulle ’n plaaslike drankie geproe wat pulque genoem word en van die gegiste sap van die agaweplant gemaak word. Soos bier bevat pulque min alkohol. Dit bevat ook plantaardige proteïene, koolhidrate, vitamiene en minerale, en daarom word dit in baie gebiede as ’n voedselaanvulling gebruik.
Kort voor lank het die Spanjaarde, wat daaraan gewoond was om alkoholiese drank saam met hulle maaltye te drink, iets sterkers uit agawesap begin stook, ’n drankie wat meskal genoem word. Dit was die voorloper van vandag se tequila. Tans is daar tientalle tequiladistilleerders in Mexiko, en hulle vervaardig meer as 189 miljoen liter per jaar, waarvan 40 persent uitgevoer word.
Die blou agawe, ’n vetplant wat verwant is aan die leliefamilie, word verbou in die dorre hooglande in die weste van Sentraal-Mexiko, hoofsaaklik in die staat Jalisco naby die dorp Tequila, waarna die drankie vernoem is.a Agaweplante neem tot 12 jaar om volwasse te word, waartydens die plant baie minerale absorbeer. Wanneer die plant geoes word, word die skerp gepunte blare weggesny, sodat die pynappelvormige hart, oftewel die piña, oorbly. Dit weeg gewoonlik om en by 50 kilogram en bevat die voedsame sap. Omtrent sewe kilogram piña is nodig om een liter tequila te vervaardig.
Baie Mexikane geniet dit om tequila skoon te drink, met ’n bietjie sout en ’n lemmetjieskyfie. Buitelanders is bekender met die margarita, ’n mengeldrankie wat bestaan uit tequila gemeng met lemmetjiesap en ’n lemoenlikeur, wat bedien word met fyngemaakte ys in ’n glas waarvan die borand met ’n soutlagie bedek is.b Tequila word in sowat 90 lande verkoop en word dus tereg Mexiko se ambassadeur in die buiteland genoem.
[Voetnote]
a Heelparty van die 136 agawespesies in Mexiko word gebruik om pulque en ander alkoholiese drankies te vervaardig. Maar net die blou agawe word vir tequila gebruik.
b Die matige gebruik van alkohol word nie in die Bybel veroordeel nie (Psalm 104:15; 1 Timoteus 5:23). Maar die Bybel veroordeel wel oormatige drankgebruik en dronkenskap.—1 Korintiërs 6:9, 10; Titus 2:3.