Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 10/11 bl. 13-15
  • Wat ouers sê

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat ouers sê
  • Ontwaak!—2011
  • Soortgelyke materiaal
  • Kan die Bybel jou help om jou kinders groot te maak?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Hoe om jou kinders groot te maak sodat hulle Jehovah liefhet
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Die grootmaak van kinders—Tussen die kleinkinderjare en adolessensie
    Ontwaak!—2011
  • Enkelouers, baie uitdagings
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—2011
g 10/11 bl. 13-15

Wat ouers sê

Hoe kan jy jou kinders, terwyl hulle grootword, help om die waarde van gehoorsaamheid te leer? Hoe kan jy hulle praktiese vaardighede leer op hulle weg na volwassenheid? Let op wat party ouers regoor die wêreld gesê het.

SOSIALE EN HUISHOUDELIKE VAARDIGHEDE

“Wanneer ons saam eet en gesels oor hoe ons dag verloop het, leer elkeen van ons kinders hoe om te luister. Wanneer hulle sien dat hulle pa en ma geduldig luister, bou dit hulle respek vir mekaar en vir hulleself op.”—Richard, Brittanje.

“Dit is hartverblydend om te sien hoe ons kinders mekaar met respek behandel en hulle geskille sonder ons hulp oplos. Hulle gesels ook met vrymoedigheid met volwassenes.”—John, Suid-Afrika.

“Ek is nie volmaak nie, en soms maak ek per ongeluk my kinders se gevoelens seer. Wanneer dit gebeur, is dit baie belangrik dat ek hulle om verskoning vra.”—Janelle, Australië.

“Ons leer ons kinders om praktiese takies in en om die huis te doen. Die feit dat ons hulle leer om werk ten behoewe van ander te doen, dra daartoe by dat dinge in die gesin glad en vreedsaam verloop en gee ons kinders ’n gevoel van genoegdoening.”—Clive, Australië.

“Dit is nie maklik nie, maar dit is noodsaaklik om hulle te leer hoe om mekaar te verstaan, te respekteer en te vergewe.”—Joeko, Japan.

HIGIËNE EN GESONDHEID

“Toe ons kinders jonk was, het ons hulle geleer om te bad en dit pret gemaak deur seep te gebruik wat interessante vorms het, sjampoe wat ’n strokiesprentkarakter uitbeeld en sponse wat soos klein diertjies gevorm is.”—Edgar, Mexiko.

“Toe ons gewoon het waar daar geen kraanwater was nie, het ek altyd seker gemaak dat daar seep en ’n houer water op ’n gerieflike plek is sodat ons ons hande kon was wanneer ons in die huis inkom.”—Endurance, Nigerië.

“Ons gee ons kinders elke dag gesonde etes, en ons verduidelik waarom ’n gebalanseerde dieet noodsaaklik is. Die kinders is nuuskierig oor hoe ek verskillende geregte maak, en daarom laat ek hulle my help om etes voor te berei. Die tyd wat ons saam deurbring terwyl ons dit doen, bevorder ook kommunikasie.”—Sandra, Brittanje.

“Oefening is belangrik, en as ouers probeer ons ’n goeie voorbeeld stel. Ons kinders geniet dit as ons as ’n gesin saam gaan draf, swem, tennis of basketbal speel of fietsry. Hulle leer dat oefening nie net belangrik is nie, maar dat dit ook pret is.”—Keren, Australië.

“Dit is van die allergrootste belang dat kinders tyd saam met hulle ouers deurbring. Niks anders kan dit vervang nie—nie geld, geskenke of uitstappies nie. Ek aanvaar net werk in die oggend wanneer die kinders by die skool is. Dan kan ek hulle in die middag my onverdeelde aandag gee.”—Romina, Italië.

DISSIPLINE

“Ons het gevind dat daar nie een spesifieke vorm van dissipline is wat die beste werk nie; dit hang van die omstandighede af. Soms behels dissipline dat jy ’n openhartige, ernstige gesprek met die kind het en ander kere behels dit dat jy van sy voorregte wegneem.”—Ogbiti, Nigerië.

“Ons laat ons kinders ons instruksies herhaal om seker te maak dat hulle dit verstaan. En ons bly by wat ons besluit het. As ons wil hê dat ons kinders moet doen wat ons sê, moet ons ons kant bring deur die nodige dissipline toe te dien as hulle ongehoorsaam is.”—Clive, Australië.

“Ek het dit nuttig gevind om af te buk wanneer ek my kinders teregwys sodat ek op hulle ooghoogte is. Dit help my om hulle volle aandag te kry. Dan kan hulle ook my gesigsuitdrukking sien, wat net soveel kan sê as my woorde.”—Jennifer, Australië.

“Ons probeer om nie vir ons kinders te sê: ‘Julle luister nooit nie’, selfs as dit voel asof die beskuldiging geregverdig is. Ook berispe ons nie die een kind voor die ander nie. Ons fluister vir hulle of neem hulle eenkant toe sodat ons privaat met hulle kan praat.”—Rudi, Mosambiek.

“Kinders is baie beïnvloedbaar, en hulle hou daarvan om ander na te boots. Daarom moet ons die verderflike invloed van skoolmaats, die media en die sosiale omgewing teëwerk en ons kinders help om goeie sedes te ontwikkel wat op heilsame beginsels gegrond is. ’n Goeie sedelike grondslag help hulle om nee te sê vir enigiets wat skadelik is.”—Grégoire, Demokratiese Republiek van die Kongo.

“Dissipline moet ferm, regverdig en konsekwent wees. Kinders moet weet wat die gevolge sal wees as hulle iets verkeerds doen en moet weet dat jy bedoel wat jy sê.”—Owen, Engeland.

[Lokteks op bladsy 14]

“Moenie julle kinders vertoorn nie, sodat hulle nie mismoedig word nie.”—Kolossense 3:21

[Venster/Prent op bladsy 15]

GESINSPROFIEL

Sukses as ’n enkelouer

’n Onderhoud met Lucinda Forster

Wat is vir jou as ’n enkelouer die grootste uitdaging?

Dit is al klaar ’n groot uitdaging om ’n ouer te wees, maar as ’n enkelouer vind ek dit besonder moeilik om genoeg tyd en energie te hê vir alles wat ek moet doen. Dit verg tyd om beginsels en waardes by jou kinders in te skerp, en dan moet jy nog tyd oorhê om saam te ontspan en te lag. Ek moet dikwels tyd wat ek vir ontspanning wou gebruik, opoffer om huishoudelike takies te doen.

Hoe behou jy goeie kommunikasie met jou dogters?

Ná ’n egskeiding kan kinders onseker en kwaad voel. Ek vind dat oogkontak en ’n kalm stemtoon noodsaaklik is wanneer probleme ontstaan. Ek wag totdat ons kalm is, en dan probeer ek sê waaroor ek bekommerd is sonder om ’n groot bohaai te maak. Ek vra my kinders se mening, luister baie mooi daarna en wys dat hulle gevoelens werklik vir my belangrik is. Ek toon belangstelling in hulle skoolwerk en prys hulle vir wat hulle doen. Ons eet altyd saam by die tafel in ’n kalm en ontspanne atmosfeer. Ek sê ook gereeld vir hulle hoe lief ek vir hulle is.

Hoe pas jy dissipline toe?

Kinders het vaste grense nodig, en konsekwentheid is uiters belangrik. Ek probeer om liefdevol maar ferm te wees. Ek redeneer met my kinders en verduidelik waarom sekere soorte gedrag verkeerd is. Ek probeer ook om hulle te kry om te sê hoe hulle voel voordat ek hulle dissiplineer sodat ek kan vasstel waarom hulle op ’n sekere manier opgetree het. As ek verkeerd is—as ek die situasie byvoorbeeld verkeerd opgesom het—vra ek om verskoning.

Hoe leer jy jou kinders om ander te respekteer?

Ek herinner hulle aan wat Jesus mense geleer het—dat jy ander moet behandel soos jy behandel wil word (Lukas 6:31). Ek spoor my dogters aan om hulle geskille sover moontlik self op te los, en ek leer hulle die waarde daarvan om op ’n kalm en saggeaarde manier te reageer wanneer hulle ontsteld is.

Wat doen julle vir ontspanning?

Ons kan nie altyd bekostig om op vakansie te gaan nie, en daarom kyk ons of bekostigbare aktiwiteite in koerante geadverteer word. Ons hou pieknieks of gaan stap in kwekerye om te sien watter plante daar gekweek word. Ons plant kruie in ons tuin en geniet dit om ons eie kruie te pluk wanneer ons kos maak. Ontspanning is belangrik, al gaan ons net na ’n park in die omgewing.

Watter vreugdes en belonings het jy al ondervind?

Die lewe as ’n enkelouergesin was vir ons moeilik, maar ons het nader aan mekaar gekom en ons het geleer om ons seëninge te waardeer. Ek geniet dit om te sien hoe elke kind se persoonlikheid ontwikkel. Op hulle ouderdom wil hulle tyd saam met my deurbring, en hulle geselskap is vir my kosbaar. Hulle is ingestel op my gemoedstemming en sal my soms net ’n drukkie gee om my van hulle liefde te verseker. Hierdie blyke van hulle liefde is vir my ’n groot bron van vreugde. Bowenal ervaar ons die geneentheid van ’n liefdevolle Skepper wat ons al deur talle moeilike situasies gehelp het. Die Bybel het my die krag gegee om vol te hou met my pogings om ’n goeie ouer te wees.—Jesaja 41:13.

[Prent]

Lucinda saam met haar dogters, Brie en Shae

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel