Wanneer ’n kind kanker het
“Gevoelens van wanhoop het my oorweldig. Dit het gevoel asof die grond onder my padgegee het. Ek het bedroef begin voel, asof my dogtertjie alreeds dood was.”—Jaílton, toe hy gehoor het dat sy dogter kanker het.
AS JY uitvind dat jou kind kanker het, kan dit oorweldigend, selfs angswekkend, wees. Hoe algemeen is dit? Hoewel “kanker by kinders ’n klein persentasie van alle kankers uitmaak”, sê die Internasionale Unie teen Kanker, “word meer as 160 000 kinders elke jaar [regoor die wêreld] daarmee gediagnoseer en is kanker, naas ongelukke, die grootste doodsoorsaak onder kinders in ontwikkelde lande”. In Brasilië is daar byvoorbeeld “elke jaar ongeveer 9 000 nuwe gevalle van kinderkanker”, sê die Nasionale Kankerinstituut.
Wanneer ’n kind kanker kry, is dit “’n verskriklike slag wat elke lid van die gesin, sonder uitsondering, tref”, sê die boek À margem do leito—A mãe e o câncer infantil (By die siekbed—Die moeder en kinderkanker). As ’n kind met kanker gediagnoseer word, sal hy of sy dikwels ’n operasie nodig hê, asook chemoterapie of bestraling of albei, tesame met die onaangename newe-effekte daarvan. Vir die ouers is dit traumaties en lei dit tot vrees, hartseer, skuldgevoelens, woede en ontkenning. Hoe kan ouers hierdie pynlike ondervinding die hoof bied?
Besorgde mediese deskundiges is natuurlik ’n groot bron van vertroosting. “Hulle kan aanmoedigende inligting verskaf en ook verduidelik watter newe-effekte ’n mens kan verwag. Hierdie inligting kan die ondervinding minder traumaties maak”, sê ’n New Yorkse dokter wat al baie kankerpasiënte behandel het. Ander ouers wie se kinders kanker gehad het, kan ook baie vertroosting bied. Daarom het Ontwaak! onderhoude gevoer met vyf sulke ouers wat in Brasilië woon.
● Jaílton en Néia “Toe ons dogtertjie twee en ’n half jaar oud was, het ons uitgevind dat sy akute limfoblastiese leukemie het.”
Hoe lank het die behandeling geduur?
“Sy het byna twee en ’n half jaar lank chemoterapie ontvang.”
Watter newe-effekte het sy ondervind?
“Sy het baie opgegooi en haar hare verloor. Die emalje op haar tande het verdonker. En sy het drie keer longontsteking gekry.”
Hoe het dit julle laat voel?
“Aan die begin was ons paniekbevange. Maar toe ons sien dat haar gesondheid verbeter, het dit ons die vertroue gegee dat sy heeltemal gesond sou word. Sy is nou byna nege jaar oud.”
Wat het julle gehelp om hierdie traumatiese situasie die hoof te bied?
“Dit was beslis ons vertroue in Jehovah God, wat ‘ons in al ons verdrukking vertroos het’, soos die Bybel in 2 Korintiërs 1:3, 4 sê. Ons Christenbroers en -susters het ons ook wonderlike ondersteuning gegee. Hulle het aanmoedigende briewe geskryf, hulle het gebel, hulle het saam met ons en vir ons gebid en hulle het ons selfs finansieel gehelp. En toe ons dogter na ’n hospitaal in ’n ander staat verskuif moes word, het die Getuies daar vir ons verblyf gegee en beurte gemaak om ons hospitaal toe te neem. Ons kan ons dankbaarheid vir al die ondersteuning wat ons ontvang het, nie in woorde uitdruk nie.”
● Luiz en Fabiana “In 1992 het ons uitgevind dat ons dogter ’n seldsame, aggressiewe vorm van eierstokkanker het. Sy was 11 jaar oud.”
Wat was julle eerste reaksie?
“Ons het geweier om dit te glo. Ons kon nie aanvaar dat ons dogter kanker het nie.”
Watter mediese behandeling het sy ontvang?
“Sy het ’n operasie ondergaan en chemoterapie ontvang, en dit was vir ons almal fisies en emosioneel uitputtend. Ons dogter het twee keer longontsteking gekry. Die tweede keer het sy amper gesterf. Sy het ook ’n tekort aan bloedplaatjies ontwikkel, wat vel- en neusbloeding veroorsaak het. Medikasie het gehelp om hierdie toestand te verbeter.”
Hoe lank het die behandeling geduur?
“Dit was omtrent ses maande van die eerste biopsie tot die laaste reeks chemoterapiebehandelings.”
Hoe het julle dogter oor haar diagnose en behandeling gevoel?
“Aan die begin het sy nie geweet wat aangaan nie. Die dokter het vir haar gesê dat sy ‘’n klein ronde bolletjie in haar maag het wat uitgehaal moet word’. Sy het uiteindelik besef dat dit nogal ernstig is. ‘Pappa, het ek kanker?’ het sy gevra. Dit was vir my moeilik om die regte antwoord te vind.”
Hoe het dit julle laat voel om julle dogter so te sien ly?
“Dit is nie maklik om die emosionele pyn wat ons ervaar het, te beskryf nie. Stel jou byvoorbeeld voor hoe dit voel om toe te kyk terwyl jou dogtertjie die verpleegster help om ’n aar vir die chemoterapie te vind. Wanneer dit vir my te veel was, het ek badkamer toe gegaan om te huil en te bid. Een aand was ek so moedeloos dat ek Jehovah gevra het om my in die plek van my dogtertjie te laat sterf.”
Wat het julle gehelp om die situasie die hoof te bied?
“’n Groot hulp was die ondersteuning wat ons van ons Christenbroers ontvang het. Party het ons uit verskillende dele van die land gebel. Een dierbare broer het my gevra om my Bybel te gaan haal. Toe het hy met groot meegevoel ’n paar verse uit die boek Psalm gelees. Daardie tekste was net wat ek en my vrou nodig gehad het, want ons het op daardie stadium een van die moeilikste tye van ons dogter se behandeling deurgemaak.”
● Rosimeri “My dogtertjie was vier jaar oud toe sy met ’n vorm van leukemie gediagnoseer is.”
Wat was jou eerste reaksie?
“Ek kon dit nie glo nie. Ek het dag en nag gehuil en God om hulp gesmeek. My ander dogter het dit ook moeilik gevind om te sien hoe siek haar suster is. Dit was vir haar so erg dat ek haar vir ’n ruk na my ma se huis moes stuur.”
Watter newe-effekte het jou dogtertjie ondervind?
“Haar daaglikse chemoterapiesessies het haar bloedarmoede laat kry, en daarom het die dokters vir haar ysteraanvullings en eritropoiëtien gegee om haar rooibloedseltelling op te bou. Haar bloedtelling moes heeltyd dopgehou word. Sy het ook stuipe gekry.”
Hoe lank het die behandeling geduur?
“Sy het twee jaar en vier maande lank intensiewe chemoterapie ontvang. Gedurende daardie tyd het haar hare uitgeval en het sy baie gewig aangesit. Gelukkig het haar sin vir humor haar gehelp om moed te hou. Ná omtrent ses jaar het die dokters gesê dat my dogter nie meer enige tekens van die siekte toon nie.”
Wat het jou gehelp om hierdie uiters moeilike situasie die hoof te bied?
“Ek en my dogter het dikwels gebid, en ons het gesels oor Bybelvoorbeelde van getroue knegte van God wat verskeie beproewinge deurgemaak het. Ons het ook Jesus se woorde in Matteus 6:34 ter harte geneem, wat toon dat ons nie kwellinge oor die toekoms by ons daaglikse sorge moet voeg nie. Ons het baie hulp ontvang van mede-Christene, insluitende die plaaslike Hospitaalskakelkomitee, asook van besorgde mediese personeel, wat gereeld met sulke situasies te kampe het.”
Ken jy ’n kind wat kanker het, dalk selfs ’n kind in jou familie? Indien wel, hoop ons dat hierdie onderhoude jou sal help om te verstaan dat jou droefheid normaal is. Soos die Bybel sê, is daar “’n tyd om te huil” (Prediker 3:4). Wees bowenal verseker dat die ware God, Jehovah, wat die “Hoorder van die gebed” genoem word, almal sal vertroos wat hulle met ’n opregte hart tot hom wend.—Psalm 65:2.
[Venster op bladsy 13]
Vertroostende Bybelverse
“Moet jou nie oor môre bekommer nie. Môre bring sy eie sorge. Jy het genoeg om jou vandag oor te bekommer.”—Matteus 6:34, Contemporary English Version.
“Mag die God en Vader van ons Here Jesus Christus, die Vader van tere barmhartighede en die God van alle vertroosting, geloof word, wat ons in al ons verdrukking vertroos.”—2 Korintiërs 1:3, 4.
“Moet julle oor niks kwel nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak.”—Filippense 4:6, 7.
“[Werp] al julle sorge op [God], want hy sorg vir julle.”—1 Petrus 5:7.
[Venster/Prent op bladsy 14]
’n Liefdevolle reëling
Hospitaalskakelkomitees van Jehovah se Getuies probeer om samewerking tussen hospitale en pasiënte te bevorder. Daarom help hulle Getuiepasiënte om bekwame dokters te vind wat hulle begeerte respekteer om gehoorsaam te wees aan die Bybelse opdrag ‘om hulle van bloed te onthou’.—Handelinge 15:20.
[Prent op bladsy 13]
Néia, Sthefany en Jaílton
[Prent op bladsy 13]
Luiz, Aline en Fabiana
[Prent op bladsy 13]
Aline en Rosimeri