“Dit is dalk net ’n lied”
● Juliana was ’n dierbare bejaarde Christen in die Filippyne wat aan Alzheimer se siekte gely het. Sy het selfs haar eie kinders nie meer herken nie. Nietemin het ek vir Juliana gaan kuier wanneer ek in die omgewing was.
Juliana was bedlêend en het net by die venster uitgestaar. Dit was moeilik om daar te wees, want sy kon my nie meer onthou nie. Sy het my met groot oë aangekyk, maar daar was geen aanduiding dat sy my herken het nie. “Dink jy nog aan Jehovah?” het ek gevra. Ek het vir haar ’n ondervinding vertel en toe nog vrae gevra, maar dit het nie gelyk of sy verstaan nie. Toe het ek ’n lied begin sing. Wat daarna gebeur het, was werklik bemoedigend!
Juliana het na my gekyk en saam met my begin sing! Ek moes kort daarna ophou sing omdat ek nie al die woorde in Tagalog uit my kop geken het nie. Maar Juliana het bly sing. Sy het al drie verse onthou. Ek het die persoon wat saam met my was, gou gevra of sy ’n liedereboek by ’n Getuie wat daar naby woon, kan gaan leen. Sy het dadelik met een teruggekom. Ek het nie geweet wat die nommer van die lied is nie, maar ek het die boek toevallig op die regte plek oopgemaak. Hierdie keer het ons die hele lied saamgesing! Toe ek Juliana gevra het of sy nog liedere kan onthou, het sy ’n ou Filippynse liefdeslied begin sing.
“Nee, Juliana”, het ek gesê, “nie ’n radioliedjie nie, een wat ons by die Koninkryksaala sing.” Toe het ek ’n ander lied uit ons liedereboek begin sing, en sy het dadelik begin saamsing. Haar oë het geblink, haar gesig was nou vol lewe en sy het van oor tot oor geglimlag.
Teen dié tyd het die bure kom kyk waar die singery vandaan kom. Hulle het deur die venster na ons gekyk en na ons geluister. Dit was wonderlik om te sien hoe die musiek Juliana se hart geraak het! Dit het haar die woorde van die lied laat onthou.
Ek het uit hierdie ondervinding geleer dat ’n mens nooit weet wat deur die duisternis sal dring en diegene sal raak wat oor die algemeen nie kan verstaan of kommunikeer nie. Dit is dalk net ’n lied.
Juliana is kort ná hierdie voorval oorlede. Ek het weer aan hierdie ondervinding gedink toe ek na die roerende nuwe musiekopnames geluister het wat Jehovah se Getuies in 2009 vrygestel het. As jy wil, kan jy by die plaaslike Getuies uitvind hoe jy hierdie pragtige, hartroerende opnames in die hande kan kry.
[Voetnoot]
a Die naam van die vergaderplekke van Jehovah se Getuies.