Verstom deur die natuur!
WETENSKAPLIKE navorsing het al baie insig voorsien in die werking van die heelal, of kosmos. Die mensdom verstaan dit nou beter—van die kleinste boustene van materie tot die groot uitgestrektheid van die ruimte. Nietemin is dit verbysterend hoeveel ons nog kan leer.
Hier op aarde bewoon ons ’n piepklein deeltjie van die uitgestrekte heelal. Tog is ons hier op ons aardse tuiste verstom oor hoe kompleks en pragtig die natuur is—’n mooi blom, ’n asemrowende uitsig, die indrukwekkende verekleed van ’n voël, ’n skoenlapper se vlerke, ’n kleurvolle sonsondergang of die glimlag van ’n geliefde.
Baie mense het genoeg bewyse in die fisiese heelal gevind om aan die bestaan van ’n intelligente Skepper te glo. Die wette van die fisika, sê hulle, is blykbaar fyn ingestel om lewe te onderhou. As die heelal net effens anders georganiseer was, sou lewe onmoontlik gewees het. Maar lewe, met al sy wonderlike diversiteit, is oral om ons.
Die kosmoloog Paul Davies skryf: “Namate die kosmiese drama ontvou, wil dit voorkom asof daar ’n draaiboek is—’n samehangende stelsel van dinge . . . Die natuur is nie ’n reeks toevallige gebeure nie, maar die openbaring van wiskundige wette wat vernuftig verweef is.” Baie wetenskaplikes is dit eens met Davies. Baie ander is nie.
Die fisikus en Nobelpryswenner Steven Weinberg het byvoorbeeld gesê: “Hoe beter ’n mens die heelal verstaan, hoe sinloser lyk dit.” Ironies genoeg, Weinberg het ook gesê dat “dit soms lyk of die natuur mooier is as wat werklik nodig is. . . . ’n Mens kan byna nie anders as om te dink dat al hierdie prag dalk tot ons voordeel hier geplaas is nie.”
Wat is die geval? As daar fyn instelling is, behoort daar dan nie ook ’n Meesterinsteller—’n Ontwerper, ’n Skepper—met ’n voorneme te wees nie? Het ons lewe en ons heelal ’n doel? Of is ons hier bloot as gevolg van toevallige en doellose fisiese prosesse? Die volgende artikels bespreek hierdie vrae.