“Hou aan waak!”
Streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies
◼ Duisende van hierdie driedaagse streekbyeenkomste, wat in Suid-Afrika teen die einde van 2009 sal begin, sal gedurende die volgende paar maande regoor die wêreld gehou word. In Suid-Afrika sal die sessies elke dag om nege-uur die oggend met ’n musiekprogram begin. Vrydag se tema, wat op Matteus 24:44 gebaseer is, is “Julle moet gereed wees”. Die voorsittersrede sal gevolg word deur die toesprake “Streekbyeenkomste help ons om waaksaam te bly” en “Jehovah—God van ‘tye en tydperke’”. Dan sal die simposium “Volg getroues na wat waaksaam gebly het” bespreek hoe Noag, Moses en Jeremia dit gedoen het. Die oggendprogram sal afsluit met die programrede “Hoe Jehovah ons help om ‘aan te hou waak’”.
Op Vrydagmiddag sal die eerste deel, “Antwoorde op vrae oor ‘die laaste dae’”, gevolg word deur die toesprake “‘Julle weet nie die dag en ook nie die uur nie’—Waarom nie?” en “Weet dat die einde naby is”. Dan sal die sesdelige simposium “‘Bly wakker’ as Christengesinne!” volg. Die eerste drie dele is spesifiek gerig op mans, vroue en kinders. Die laaste drie dele se temas is “Hou jou oog eenvoudig”, “Hou aan om geestelike doelwitte na te streef” en “Hou aan om die aand vir gesinsaanbidding te benut”. Die middagsessie sal afsluit met die toespraak “Verse wat ons aanspoor om ‘voortdurend streng te let op hoe ons wandel’”.
Saterdag se tema is “Bly nugter van verstand, wees waaksaam”, gebaseer op 1 Petrus 5:8. Die simposium “Help mense om ‘uit die slaap te ontwaak’” sal die volgende vyf dele insluit: “Ons bediening—Waarom so noodsaaklik?”, “Wees oplettend in die bediening”, “Lê jou daarop toe om jou vaardighede te verbeter”, “Moenie jou familielede vergeet nie!” en “Behou jou gevoel van dringendheid!” Ná die toesprake “Volg Jesus se voorbeeld van waaksaamheid na” en “Wees waaksaam met die oog op gebede” sal die sessie afsluit met ’n toespraak oor die doop, waarna diegene wat aan die vereistes voldoen, die geleentheid sal hê om gedoop te word.
Saterdagmiddag se program sal die vyfdelige simposium insluit “Pas op vir Satan se valstrikke!”—“Die vuur”, “Die kuil”, “Die strik”, “Die valstrik wat verstik” en “Die valstrik wat verbrysel”. Die spesiale deel “Totdat ek sterf, sal ek my onkreukbaarheid nie prysgee nie!” sal daarop volg. Die dag se sessies sal afsluit met die toesprake “Moenie ‘na die dinge kyk wat agter is’ nie” en “Leer waaksaamheid by Jesus se apostels”.
Sondag se tema, wat gebaseer is op Habakuk 2:3, is “Bly in afwagting . . . Dit sal nie laat wees nie.” Ná ’n toespraak oor die dag se tema sal die simposium “Hou jou oë gerig op die dinge wat nie gesien word nie” die volgende onderwerpe bespreek: “Die tien horings . . . sal die hoer haat”, “Die nasies sal Jehovah moet erken”, “‘Al hierdie koninkryke’ sal verbrysel word”, “Die duiwel sal vir duisend jaar gebind word”, “Hulle sal huise bou en wingerde plant”, “Die wolf en die lam sal saam wei”, “God . . . sal elke traan . . . afvee”, “Almal wat in die gedenkgrafte is, . . . sal uitkom” en “God sal ‘alles vir elkeen’ wees”. Die oggendsessie sal afsluit met die openbare toespraak “Hoe kan jy die einde van die wêreld oorleef?”
’n Hoogtepunt van Sondagmiddag se sessie is die hartroerende drama “Jou broer was dood en het lewend geword”, wat in ons dag afspeel en gebaseer is op Jesus se gelykenis van die verlore seun. Ná die opsomming van die week se Wagtoring-studie sal die byeenkoms afsluit met die toespraak “Bly in afwagting, op die uitkyk vir die dag van Jehovah!”.
Tref nou reëlings om dit by te woon. Jy kan by die plaaslike Koninkryksaal van Jehovah se Getuies uitvind waar die streekbyeenkoms naaste aan jou gehou sal word, of jy kan skryf aan die uitgewers van hierdie tydskrif. Op sommige plekke sal vier dae lange internasionale streekbyeenkomste gehou word.