Gebroke harte, verpletterde geloof
“DAAR was lyke oral, en ons kon nie uitmaak waar ons huis voorheen gestaan het nie”, het ’n Sri Lankaanse man gesê nadat ’n tsoenami sy dorp in Desember 2004 verwoes het. In ’n artikel oor die ramp het ’n godsdiensredakteur gesê dat hy soms onwillekeurig “deur geklemde tande bid”.
Baie beskou natuurrampe as goddelike straf. Een rubriekskrywer het ’n verwoestende orkaan as “die vuis van God” beskryf. In die Verenigde State het sommige godsdiensleiers rampe soos die orkaan Katrina beskryf as “God se toorn” op “sondige stede”. In Sri Lanka het militante Boeddhiste Christene vir die tsoenami geblameer, wat groter godsdiensverdeeldheid tot gevolg gehad het. Die hoof van ’n Hindoetempel het gemeen dat die god Sjiwa kwaad was omdat mense nie reg lewe nie. ’n Boeddhiste-godsdiensleier in die Verenigde State het aangaande natuurrampe gesê: “Ons weet nie waarom hierdie dinge plaasvind nie. Ons weet nie eers waarom ons hier is nie.”
Wanneer jy beelde sien van verwoeste huise, kortgeknipte lewens en gebroke harte, vra jy jou dalk af: ‘Waarom laat God soveel lyding toe?’ Of dink jy: ‘God moet goeie redes hê waarom hy toelaat dat sulke dinge gebeur, maar hy het nie daardie redes aan ons bekend gemaak nie’? Die volgende artikels ondersoek hierdie saak. Dit bespreek ook ’n paar praktiese stappe wat mense kan neem om die gevaar van besering of die dood te verminder wanneer ’n natuurramp dreig of plaasvind.
[Prent op bladsy 3]
Baie godsdiensleiers weet nie waarom God toelaat dat natuurrampe plaasvind nie