Hulp vir ’n jong meisie met probleme
SIBIA, ’n 13-jarige skoolmeisie in Mexiko, het opgelet dat ’n klasmaat dikwels in trane by die skool aangekom het. Sy het haar probeer vertroos. Eendag het Sibia se klasmaat vir haar vertel dat haar pa ’n alkoholis is en dat hy haar ma slaan.
Sibia vertel: “Sy het my vertel dat sy nie langer wou lewe nie, dat sy al selfs selfmoord probeer pleeg het. Sy het gesê dat niemand haar liefhet nie en dat sy heeltemal alleen voel. Ek het toe vir haar gesê dat daar wel Iemand is wat haar baie liefhet, die belangrikste Persoon in die heelal. Toe het ek verduidelik wat Jehovah se voorneme vir die mensdom is.”
Later het Sibia die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk vir haar klasmaat gegee en dit elke dag gedurende pouse met haar begin studeer. Die meisie het geleidelik uit haar dop gekruip en het begin om met ander te gesels en saam met hulle te lag. Sy het in ’n brief aan Sibia geskryf: “Dankie vir jou vriendskap en dat jy verstaan. Jy is vir my soos die suster wat ek nog altyd wou hê. Nou weet ek dat daar iemand is wat vir my omgee—Jehovah.”
Dalk weet jy van ’n jongmens wat sal baat vind by die Jongmense vra-boek. Die 39 hoofstukke daarin sluit die volgende in: “Hoe kan ek ware vriende maak?”, “Wat van voorhuwelikse seks?” en “Hoe weet ek of dit ware liefde is?” Jy kan ’n eksemplaar aanvra deur die bygaande koepon in te vul en dit na die adres op die koepon of na die gepaste adres op bladsy 5 van die tydskrif te pos.
□ Lewer asseblief hierdie boek by my af, sonder enige verpligting.
□ Tree asseblief met my in verbinding in verband met ’n gratis tuisbybelstudie.