Die belangrikste vergadering van die jaar—Jy is welkom!
Op Donderdag 24 Maart 2005 sal ’n gebeurtenis plaasvind wat jy nie moet misloop nie. Dit is die dag waarop meer as sesmiljoen Getuies van Jehovah sowel as miljoene vriende regoor die wêreld sal vergader ter herinnering aan die laaste aandmaal wat Jesus saam met sy dissipels gehad het. In ooreenstemming met Jesus se instruksies sal ongesuurde brood en rooi wyn tydens elke vergadering omgestuur word, en die betekenis van hierdie viering sal verduidelik word.—Markus 14:22-24.
Baie mense ken hierdie gebeurtenis as die Here se Aandmaal. Jehovah se Getuies noem dit die Herdenking van Christus se dood. Dit is ’n belangrike herinnering aan die offer wat Jesus Christus ten behoewe van die sondige mensdom gebring het toe hy gesterf het (Johannes 3:16; 1 Johannes 2:2). Nadat Jesus sy laaste maaltyd genuttig het, is hy gearresteer, en later het hy aan ’n paal gesterf asof hy ’n slegte misdadiger was.—Johannes 19:17, 18.
Jy is hartlik welkom by hierdie spesiale vergadering, die belangrikste vergadering op die jaarlikse kalender van Jehovah se Getuies. Vind gerus by die Koninkryksaal in jou omgewing uit presies hoe laat en waar dit gehou sal word.