Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g04 7/8 bl. 24-25
  • ‘’n Stadsraad moenie “Big Brother” speel nie’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘’n Stadsraad moenie “Big Brother” speel nie’
  • Ontwaak!—2004
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Die verdediging en wetlike bevestiging van die goeie nuus’
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • ‘Gereed vir elke goeie werk’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Die Hooggeregshof se beslissing ten gunste van vryheid van spraak
    Ontwaak!—2003
  • Die Hooggeregshof neem die saak aan
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—2004
g04 7/8 bl. 24-25

‘’n Stadsraad moenie “Big Brother” speel nie’

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KANADA

DIE Kanadese Handves van Regte en Vryhede beskerm die vryhede van al Kanada se burgers. Vryheid van spraak, persvryheid en godsdiensvryheid word deur die grondwet gewaarborg en kan deur die howe gehandhaaf word.

Toe die dorp Blainville, ’n gemeenskap in die noordweste van Montreal, ’n wysiging van hulle dorpswette ingedien het om ’n verbod te plaas op ‘besoeke van ’n godsdienstige aard’ wat van deur tot deur en sonder ’n permit gedoen word, het dit dus die aandag van Jehovah se Getuies getrek. Die voorgestelde wysiging sou ’n regstreekse uitwerking op hulle huis-tot-huis-bediening hê (Handelinge 20:20, 21). Maar waarom is die wysiging ingedien? Stadsamptenare het gesê dat daar baie klagtes oor deur-tot-deur-besoeke van Jehovah se Getuies was. Maar volgens polisieverslae was daar in die vorige vyf jaar nie een klagte oor die bedrywighede van Jehovah se Getuies nie!

Die wysiging het nietemin in 1996 wet geword. Regsgeleerdes vir Jehovah se Getuies in Blainville het die dorp later in kennis gestel dat dit weens die grondwet se waarborg van godsdiensvryheid vir die dorp onwettig sou wees om die wet te gebruik om in die bedrywighede van Jehovah se Getuies in te meng. Stadsamptenare het hierdie kennisgewing verontagsaam en 17 dagvaardings uitgereik. Regsgeleerdes vir die Getuies het hierop gereageer deur ’n hofsaak aanhangig te maak om te voorkom dat Blainville godsdiensvryheid en vrye meningsuiting—regte van alle Kanadese burgers—beperk.

Die saak is op 3 en 4 Oktober 2000 in die Hoër Hof van Quebec voor Sy Edele regter Jean Crépeau verhoor. Ná sorgvuldige oorweging het die regter sy beslissing ten gunste van Jehovah se Getuies gegee. Regter Crépeau het erken “dat die aansoekers in die voetstappe van die eerste Christengemeente volg wanneer hulle deur-tot-deur-besoeke by huise in hulle omgewing doen en mense aanspoor om ’n hoë sedelike en geestelike standaard te handhaaf. . . . Besoeke by mense se huise is ’n Christelike gemeenskapsdiens. Jehovah se Getuies besoek die inwoners van Blainville gemiddeld een keer elke vier maande om hulle te nooi om gedagtes te wissel oor onderwerpe wat opbouend en van algemene belang is.” In sy uitspraak het regter Crépeau gesê: “[Die Hof] verklaar dat Jehovah se Getuies vrygestel is van die vereiste om ’n permit te verkry om hulle bediening uit te voer.”

Blainville het by die Appèlhof van Quebec teen regter Crépeau se beslissing appèl aangeteken. Die appèl is op 17 Junie 2003 bepleit, en op 27 Augustus 2003 is ’n uitspraak gelewer wat die beslissing van die verhoorregter bevestig het. Die Hof het verwys na die Kanadese Handves van Regte en Vryhede, wat godsdiensvryheid beskerm en die reg insluit om aan godsdiensoortuigings uiting te gee deur dit bekend te maak en aan ander te leer, en dit het ’n verklaring uitgereik wat sê: “Die betwiste dorpswet plaas ’n ernstige beperking op die godsdiensvryheid van Jehovah se Getuies en die vryheid van denke, oortuiging en mening asook die vrye meningsuiting van Blainville se inwoners . . . Die getuienis toon dat die inwoners van Blainville nie oor Jehovah se Getuies se werwingsbedrywighede gekla het nie, maar oor die lastige besoeke van talle verkopers en smouse. Daar was nie ’n dringende en werklike behoefte om deur-tot-deur-besoeke vir godsdiensdoeleindes te reguleer nie. Wat meer is, die uitgevaardigde wette is saamgeflans, is sonder voorafberaadslaging haastig goedgekeur en is onredelik, en wanneer dit toegepas word, gaan dit verder as die verklaarde doel om die privaatheid van die inwoners te beskerm. . . . In ’n vrye en demokratiese gemeenskap moet ’n stadsraad nie ‘Big Brother’ speel en probeer voorskryf wie die inwoners gedurende die aand of die naweek by hulle huis mag ontvang nie. Die verhoorregter was reg toe hy verklaar het dat die betwiste dorpswet glad nie op Jehovah se Getuies van toepassing is nie.”a

Jehovah se Getuies is bly dat die howe van Quebec die Handves van Regte in hierdie geval toegepas het om die godsdiensvryheid van al Quebec se burgers teen kleingeestige onderdrukking te beskerm.

[Voetnoot]

a “Big Brother” is ’n verwysing na George Orwell se roman Nineteen Eighty-four waarin ’n denkbeeldige totalitêre staat beheer oor sy burgers uitoefen deur middel van die alomteenwoordige leier van die party, “Big Brother”, wat bewus is van alles wat in die staat gesê en gedoen word.

[Kaart op bladsy 24]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

KANADA

Blainville

Montreal

VSA

[Prent op bladsy 24]

Die Kanadese Handves van Regte en Vryhede beskerm die vryhede van al Kanada se burgers

[Prente op bladsy 25]

Getuies kan nou vryelik in Blainville aan die openbare bediening deelneem. Inlas: Hulle vergader by hulle Koninkryksaal

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel