Van ons lesers
Dwelmmisbruik Die voorblad van die Ontwaak! van 8 April 2003 (“Dwelmmisbruik in die gesin—Wat kan jy doen?”) het my oog gevang. Ek studeer die Bybel met ’n vrou genaamd Linda. Twee van haar seuns is aan dwelms verslaaf. Die volgende oggend het ek hierdie artikels—paragraaf vir paragraaf—saam met haar deurgegaan. Dit het haar baie bemoedig en versterk. Die inligting het op net die regte tyd gekom.
C. M., Verenigde State
Ek bestuur ’n raadgewingsdiens wat gesinne help om dwelmverslawing en alkoholisme die hoof te bied. Hoewel ek ’n Katoliek is, is ek ’n ywerige leser van die Ontwaak! Ek wil julle graag bedank vir die reeks oor dwelmmisbruik in die gesin. Ek het dit met groot belangstelling gelees, aangesien dit my sal help in my werk met jongmense.
H. C., Ecuador
Gebruik jou hande Ek het die artikel “Eet met jou hande” in die nommer van 8 April 2003 gelees. Ek is tien jaar oud, en ek het warm stukkies beesvleis met my hande probeer eet. Dit was baie moeilik. Maar dit was pret, en die vleis het lekker gesmaak! Dankie vir hierdie artikel. Ek neem in die laaste tyd die Ontwaak! saam met my skool toe en lees dit gedurende pouses.
M. T., Japan
Bybelvasvra Ek wil julle graag laat weet dat ek gek is oor die blokkiesraaisels wat julle publiseer. Ek het al baie daaruit geleer.
R. N., Verenigde State
Ek het my kinders die Bybel geleer vandat hulle baie jonk was. Maar noudat hulle ouer is, is dit moeiliker om hulle in geestelike dinge te interesseer. Ek het dus na maniere begin soek om hulle te help. Toe ek die nommer van 8 April ontvang het en die artikel “Het jy geweet?” sien, het ek ’n idee gekry. Ek het dadelik die vrae vir my kinders aangepas deur dit meervoudigekeusevrae te maak en die vrae teen die muur aan te bring. Hulle was eers nie baie geïnteresseerd nie, maar na ’n rukkie het hulle die vrae begin beantwoord. Nou maak ons die vrae ’n onderwerp vir gesinsbespreking.
R. M., Japan
“Ontwaak!” antwoord: Die Bybelvasvra “Het jy geweet?” verskyn in sekere taaluitgawes van die “Ontwaak!” wat nie ’n blokkiesraaisel bevat nie.
Kokosneute Ek het regtig die artikel “Een van die nuttigste neute op aarde” in die nommer van 22 Maart 2003 geniet. Ek en my vriendin maak seep as ’n stokperdjie. Ons gebruik kokosolie in ons seep omdat dit goed is vir die vel en dit seepskuim met baie borrels maak. Noudat ek hierdie artikel gelees het, waardeer ek die kokosneut selfs meer.
C. B., Kanada
Vryheid van spraak Ek het so pas die reeks “Die Amerikaanse Hooggeregshof en vryheid van spraak” (8 Januarie 2003) klaar gelees. Die reeks het ’n see van emosies in my laat opwel—verbasing dat die debat oor hierdie onderwerp nog steeds in die Verenigde State voortduur, verwondering oor hoe ons Christenbroers ons standpunt op bekwame wyse verdedig het en diepe waardering dat regverdige besluite selfs in hierdie onregverdige wêreld gemaak kan word. Ek geniet dit baie om aan die predikingswerk deel te neem en die goeie nuus te verkondig. Sulke artikels verruim ons horison.
O. S., Belaroes
Privaatheid Die reeks “Word jou privaatheid bedreig?” (22 Januarie 2003) het my gehelp om beter te verstaan wat dit beteken om die regte van ander te respekteer. As ’n mens ander se privaatheid skend, is dit in werklikheid ’n vorm van diefstal met onaangename gevolge. As Christene is ons van nature na aan mekaar. Maar ons kan maklik vergeet dat daar perke is wat ons nie moet oorskry nie.
T. M., Tsjeggiese Republiek