Vervaag die hoop op vrede?
“Ons kry vandag die gevoel dat ons . . . te midde van ’n tornado, ’n ongeëwenaarde ramp, lewe.”—Die koerant “La Repubblica”, Rome, Italië.
NÁ VERLEDE jaar se terreuraanvalle in die stad New York en Washington, DC, wonder meer mense as ooit tevore oor die toekoms van die mensdom. Die TV-beelde wat gewys het hoe die Tweelingtorings in vlamme ineenstort—sowel as dié wat die wanhoop van die oorlewendes getoon het—is al tallose kere uitgesaai. Hierdie beelde het mense oor die hele wêreld beangs gemaak. Hierdie angs gaan gepaard met ’n gevoel dat die wêreld op die een of ander manier ’n geskiedkundige verandering ondergaan het. Het dit?
Oorlog het kort ná 11 September 2001 uitgebreek. Kort voor lank het nasies wat mekaar vroeër vyandiggesind was, bondgenote geword in gesamentlike pogings om terrorisme te onderdruk. Op die ou end het dit baie lewens geëis en groot verwoesting aangerig. Maar wat moontlik wêreldwyd vir baie mense ’n belangriker verandering was, was die verlies van ’n gevoel van veiligheid, die toenemende gevoel dat niemand, op enige plek, werklik veilig is nie.
Wêreldleiers het met ontsaglike probleme te kampe. Joernaliste en kommentators bespiegel oor hoe daar voorkom kan word dat terrorisme soos ’n veldbrand versprei, aangesien dit blykbaar deur armoede en fanatisme aangestook word—euwels wat niemand klaarblyklik weet hoe om van ontslae te raak nie. Ongeregtigheid kom so algemeen in die wêreld voor dat al die bestanddele vir ’n uiters plofbare situasie aanwesig is. Alle soorte mense wonder of die gemeenskap se euwels ooit uit die weg geruim sal word. Sal oorlog—met al die ellende, sterftes en verwoesting wat dit meebring—ooit ophou?
Miljoene mense wend hulle tot georganiseerde godsdiens met hierdie vrae. Maar ander is skeptieser. Wat van jou? Dink jy dat godsdiensleiers hierdie vrae kan beantwoord? En kan hulle werklik deur hulle gebede vrede bevorder?